Besparing op elektrisiteit is lankal nie meer ’n keuse nie; dis absoluut noodsaaklik.

"Versigtige kragbestuur is die antwoord,” sê Graham Craggs, woordvoerder van Budget Versekering.

Só kan jy op elektrisiteitsverbruik bespaar

1. Skakel apparate af: Skakel alle apparate af wanneer hulle nie gebruik word nie. Ontprop jou selfoonlaaier wanneer jy dit klaar gebruik het. As die laaier warm is wanneer dit ingeprop maar nie aan ’n selfoon gekoppel is nie, gebruik dit steeds krag.

2. Wasgoed: Altesaam 90 persent van die krag wat ’n bolaaiwasmasjien gebruik, is om water te verhit. ’n Voorlaaiwasmasjien gebruik minder water en instandhoudingskoste is laer as dié van ’n bolaaier. ’n Wasmasjien gebruik dieselfde hoeveelheid krag vir ’n volle bondel wasgoed as vir ’n enkele artikel, dus moet jy vuil klere bêre tot jy ’n volle bondel bymekaar het.

3. Gebruik ’n laevloeistortkop: Dit gebruik minder water per minuut, dus hoef minder water warm gemaak te word.

4. Gebruik energiebesparende gloeilampe: Dit kan ’n groot verskil maak as jy jou tradisionele gloeilampe vervang met hul energiebesparende ekwivalente. Onthou ook om ligte af te skakel in vertrekke wat jy nie gebruik nie.

5. Skakel die lugreëlaar af: Jy gebruik drie keer meer energie per graad om ’n vertrek koeler te maak as om dit te verhit.

6. Optimaliseer die energieverbruik van jou rekenaar: Moderne rekenaars kan gestel word om in energiebesparende modusse te gaan.

7. Skottelgoedwasser: Pak jou skottelgoedwasser heeltemal vol voor jy dit aanskakel en gebruik kort wassiklusse soos die slegs-spoel-siklus, middelsiklus-afskakeling en ander kenmerke wat ontwerp is vir energiebesparing sowel as vir gerief.

8. Koelkas: Moenie jou koelkas te vol laai nie, want dan gebruik dit meer krag. Moenie die koelkasdeur onnodig oopmaak nie en skakel die kragbesparingskakelaar aan as daar een is.

9. Vrieskas: Hou die vrieskas se deur so kort moontlik oop om te keer dat koue lug verlore gaan. Hou jou vrieskas so vol moontlik om te keer dat ys aanpak.

10. Mikrogolfoond. Ontdooi jou kos in die yskas pleks van die mikrogolfoond, want dit is meer ekonomies. Maak klein tot middelgroot hoeveelhede kos in jou mikrogolfoond gaar. Vir groter stukke vleis is ’n gewone oond meer ekonomies.

11. Tuimeldroër. Maak die pluisfilter ná elke droogmaaksessie skoon om die algehele lugvloei te behou en so die droogmaakproses te maksimaliseer.

Dit is natuurlik die heel beste om klere buite in direkte sonlig droog te maak, of gebruik die tuimeldroër vir opeenvolgende bondels as jy kan aangesien jou droër reeds warm is en daar dus ’n besparing sal wees van aanvanklike energieverbruik.