Navorsers wat ’n middel genaamd ONX-0801 toets, het bevind gewasse het gekrimp by die helfte van die 15 vroue wat gedurende die proefneming bestudeer is.


Hulle het die middel aanvanklik net getoets om uit te vind of dit geskik is vir menslike gebruik, maar toe vind die navorsers dit het ’n positiewe kliniese uitwerking op die klein monstergroepie. Luidens berigte in The Guardian vorm ONX-0801 deel van ’n nuwe klas medisyne wat foliensuur naboots. Dit val kankerselle in die eierstokke aan. Dié resultaat is by die Kankernavorsingsinstituut in Londen gevind. 


Dis moeilik om kanker van die eierstokke te behandel. Tussen 2008 en 2010 het 36 persent van die meer as 14 000 vroue by wie kanker van die eierstokke gediagnoseer is, in die eerste jaar gesterf, terwyl meer as 1 600 in die eerste maand oorlede is.


Dokters hoop die middel sal vir vroue aangebied word wat nie meer reageer op enige van die middels wat tans beskikbaar is nie. 


“Die resultate wat hierdie proefneming opgelewer het, is baie belowend,” het dr. Udai Banerji, die studieleier en adjunk-direkteur van die medisyne-ontwikkelingseenheid by die Kankernavorsingsinstituut opgemerk. “So ’n duidelike getuienis van reproduseerbare response kom selde in hierdie vroeë stadiums van middelontwikkeling voor.” 


Hy het bygevoeg die middel sou “meer as ses maande tot die lewe kon toevoeg en die newe-effekte sou minimaal wees,” dog het hy toegegee dat nog proewe oor ’n lang tyd uitgevoer sal moet word.


Prof. Michael Coleman, professor in epidemiologie en lewenstatistieke aan die Skool van Higiëne en Tropiese Medisyne in Londen, het tot versigtigheid gemaan.


“Krimping van gewasse is belangrik, maar soos die skrywers uitwys, is dit nie dieselfde as die skep van die verlangde verlenging van die lewe van vroue met kanker van die eierstokke nie,” het hy opgemerk.


“Die navorsers se opgewondenheid is heeltemal verstaanbaar, maar ons moet versigtig wees om nie hierdie resultaat as ’n deurbraak vir pasiënte met kanker van die eierstokke te beskou voor besonderhede oor resultate op die lange duur beskikbaar is nie.”


Die navorsers het die resultate van hul toetse gedeel by ’n konferensie wat deur die Amerikaanse Vereniging van Kliniese Onkoloë aangebied is.


© Cover Media