Dis die tweede week van ons sewe week lange noodhulpreeks en hierdie keer kyk ons na dehidrasie. Eers moet jy bepaal hoe ernstig iemand ontwater is. Daarna vertel die noodpersoneel van Crisis on Call (www.crisisoncall.co.za) jou wat om te doen daaraan. Wat is die tekens dat iemand gedehidreer is? ’n Mens kan onderskei tussen ligte tot matige ontwatering en ernstige ontwatering. Wat is die simptome van ligte tot matige ontwatering?

  • ’n droë mond
  • slaperigheid of moegheid. Kinders is geneig om minder aktief te wees as gewoonlik
  • dorsheid
  • jy voel nie die behoefte om te urineer nie. Jy moet jou begin bekommer wanneer ’n baba langer as drie uur nie ’n nat doek gehad het nie en as ander mense langer as agt uur nie geürineer het nie.
  • min of geen trane wanneer iemand huil
  • ’n droë vel
  • hoofpyn
  • hardlywigheid
  • duiseligheid of lighoofdigheid
Wat is die simptome van ernstige ontwatering?

  • uiterste dors
  • slaperigheid by babas en kinders
  • prikkelbaarheid en verwarring by volwassenes
  • ’n droë mond
  • gebrek aan sweet
  • min of geen urinering - enige urine wat geproduseer word, sal donkergeel of oranje wees
  • ingesonke oë
  • droë vel en vel wat nie weer “terugspring” wanneer dit geknyp en laat los word nie
  • by babas sal die sagte plekkie op die bokant van hul kop diep insink
  • lae bloeddruk
  • ’n vinnige hartklop
  • vinnige asemhaling
  • geen trane wanneer babas of kinders huil
  • hoë koors
  • in die ernstigste gevalle kan so iemand bewusteloos word
Kan ek die pasiënt tuis behandel of moet ek die nooddiens ontbied?

  • Ligte tot matige ontwatering kan gewoonlik tuis behandel word.
  • Kry onmiddellik mediese sorg as die persoon ernstige ontwateringsimptome toon.
  • Kinders en ouer volwassenes moet met groter versigtigheid behandel word. Bel jou huisdokter dadelik wanneer die volgende simptome voorkom:

* ernstige diarree * bloederige stoelgange * matige diarree drie of meer dae. * braking van vloeistowwe * irritasie, verwarring of slaperigheid BEHANDELING: Hoe behandel ek iemand wat gedehidreer is stap-vir-stap?

  1. Beweeg die pasiënt na ’n koel gebied. Dit sal help om te verhoed dat meer vloeistof deur sweet verloor word.
  2. Hou die pasiënt stil deur hom of haar te laat lê of sit. Dit sal inspanning voorkom en keer dat die persoon flou word.
  3. Plaas ’n koel, nat lap op die persoon se lyf. Dit sal die vel afkoel en nog ontwatering voorkom.
  4. Hou die lappe klam.
  5. Laat die persoon water of sap in klein hoeveelhede drink. Jy kan ook probeer om die pasiënt waterige vrugte soos waatlemoen te gee, as hulle nie naar is nie.

In geval van diarree of braking:

  1. Staak alle vrugte, sappe, suiwel, kafeïen en vetterige kos tot 48 uur ná die simptome opgeklaar het.
  2. Meng ’n elektroliet-vervangingsoplossing en gee die persoon dikwels klein hoeveelhede daarvan: 30-60 ml elke 10-20 minute of soos die persoon dit kan inhou.
  3. Moenie die elektroliet-vervangingsoplossing langer as 16 uur gebruik sonder dat jy ’n dokter raadpleeg nie.
Wat het ek in my noodhulpkissie nodig?

  • Termometer om koors te meet
  • Rehidrasie-oplossing
  • As jy nie rehidrasie-oplossing het nie, kan jy jou eie as volg maak:

Meng die volgende bestanddele saam en drink een glas elke uur in klein hoeveelhede:

  • 1 L afgekoelde, gekookte water
  • 6 t suiker
  • ½ t sout

So kan jy dehidrasie voorkom:

  • Dra lospassende, ligte klere wanneer dit warm is.
  • Drink gereeld vloeistowwe, selfs al is jy nie dors nie. Probeer elke dag agt glase water drink.
  • Eet vars vrugte en groente met ’n hoë waterinhoud, soos waatlemoen, aarbeie, komkommer en seldery.
  • Drink ekstra water wanneer jy droë of sout kos eet.
  • Drink meer water wanneer jy oefen.
  • Beperk fisieke aktiwiteite tussen tienuur soggens en tweeuur die middag.