Twee afsonderlike ondersoeke na derm- en borskankerpasiënte het getoon die oorlewingskoers verhoog geweldig met gereelde oefening. 


’n Span van die Harvard-universiteit het amper 1 000 mans byna sewe jaar lank nagevors by wie fase 3-dermkanker gediagnoseer is. Dit is die tweede mees gevorderde vorm, wat beteken dit groei vinnig en groot. 


Die mans wat net 30 minute matige oefening vyf dae per week gedoen en ’n gesonde dieet gevolg het, het ’n 42 persent kleiner kans gehad om aan die siekte te sterf. Hulle het ook langer oorleef indien die kanker teruggekeer het. 


In ander navorsing deur ’n span by die Queensland-universiteit van Tegnologie in Brisbane, Australië, is amper 200 vroue gemonitor wat onlangs chirurgie ondergaan het om borskanker te verwyder. Die helfte van die vroue is aangeraai om minstens agt maande lank 180 minute per week matige oefening te doen. Die ander deelnemers het aanhou leef soos hulle normaalweg sou. 


Agt jaar later is bevind die vroue wat gereeld geoefen het, het ’n 55 persent groter kans gehad om steeds te leef.


Nadat hulle gemerk het die meeste van die pasiënte wat by die ondersoeke betrokke was, het flink stap as hul oefening getel, meen die kenners matige oefening is die sleutel om gewasse se groei te vertraag en die vlakke van hormone te verminder wat kan veroorsaak dat dit terugkeer. 


“Pasiënte moet daarna opbou om minstens 150 minute per week te oefen. Dokters moet absoluut hul pasiënte aanraai om te oefen,” sê dr. Erin van Blarigan, medeprofessor aan die Universiteit van Kalifornië, San Francisco, wat akademici van Harvard met die dermstudie gehelp het.


Die uitslae van die navorsing is by ’n konferensie van die Amerikaanse vereniging vir kliniese onkologie in Chicago voorgelê.


Wat die studie oor borskanker betref, sê Delyth Morgan, uitvoerende hoof van die liefdadigheidsorganisasie Breast Cancer Now: “Die voorlopige bevindings dra by tot die toenemende bewyse wat daarop dui dat oefening die kanse op oorlewing kan verbeter.”


© Cover Media