Lente is die beste tyd van die jaar om jou huis van hoek tot kant skoon te maak! Tracey hou van 'n skoon plek en Newton sê dit is ook vir hom die tyd wanneer sy skoonmaakmandjie roep!

Skop af met deeglike beplanning! So kan jy 'n warboel met 'n lied in jou hart aanpak . . .

Beplan dit so:

1. Stap van vertrek tot vertrek en stel 'n doenlys op. Besluit wat jy wil skoonmaak en prioritiseer dan wat eerste getakel moet word. As jy nie ooghare het vir skoonmaak nie, is dit 'n goeie plan om dit 'n spanpoging te maak. Span sommer jou hele gesin in. Wanneer julle klaar is, kan julle dit vier met 'n piekniek of 'n lekker braai.

2. Werk van bo na onder. Begin dus met jou plafon en mure. Hierdie areas word baie maklik vergeet of afgeskeep. Vee skoon en probeer gerus Newton se wenresep:

Opwasmiddel en 'n bietjie antibakteriële middel met 2 dele water gemeng.

Begin deur eers alles met 'n droë lap af te vee. Vee daarna alles (behalwe hout) met 'n nat lap skoon. Sit jou gunstelingmusiek aan om die atmosfeer 'n bietjie vroliker te maak. Terselfdertyd kry almal sommer 'n bietjie oefening! 'n Saterdagoggend is gewoonlik die beste tyd. 'n Goeie wenk is om die stofsuier in die hoeke van vertrekke te gebruik en ook liggies daarmee oor die ligte te beweeg.

3. Nou is ook 'n goeie tyd om alle teëls, sement tussen die teëls en lyste na te gaan.

4. Volgens Newton is daar huishoudelike items wat kwartaalliks skoongemaak moet word. Onder hulle tel matte, gordyne, meubels, matrasse en veral winterkomberse.

5. Dit is ook tyd om staal, yskaste, deurrame en vensters te politoer. Die motorhuis moet ook aandag kry en kan veral moeite verg. Doen jou bes en raak ontslae van alles wat onnodig opgegaar is, veral ná die winter.

6. Moenie van die skoonmaak van jou huis se dak vergeet nie. Sit gereeld 'n ekstra geldjie opsy en gebruik dit om die geute skoon te maak en stukkende dakteëls te vervang. 'n Goeie wenk is om foto's te neem voor en na enige werk, en om boek te hou van alle uitgawes.

7. Sorteer jou klerekas deur alles uit te haal, dit oor te pak en te herorganiseer. Vee jou kas skoon met natuurlike produkte - produkte met bleikmiddels sal jou klere sleg laat ruik. Dis ook nie goed vir hout of ander materiaal waarvan jou kas gebou is nie.

8. As jy, soos Tracey en Newton, lief is vir reis of baie vir jou werk tussen stede moet pendel, is dit ook 'n goeie plan om jou reistasse skoon te maak, te kyk dat al die wieletjies nog werk en enige ou plakkers af te haal.

TRACEY SE VRAE WAT PLA:

TRACEY VRA: Newton, is dit moontlik om 'n skoonmaaklys op te stel wat jy elke jaar kan gebruik?

NEWTON ANTWOORD: Beslis! Maar jy moet die skoonmaak van jou huis meer pragmaties benader deur dit meer gereeld beter te organiseer. Dit sal dinge baie vergemaklik.

TRACEY VRA: Wat van die areas buite, soos die braaiplek, balkon of dek?

NEWTON ANTWOORD: Hulle is ewe belangrik, ja! Lente is die beste tyd voor al die somerpartytjies om die braai-area oor te doen of goed skoon te maak en te herstel. Dit is nou die tyd om dekareas te olie, verf of vernis. Voed hierdie areas voordat ons heerlike, warm Afrikason daarop neerbak.

LEES OOK: Hoe om professioneel op te tree