Die ou gesegde lui: Die vere maak nie die voël, maar vir baie is dit darem maar lekker om mooi aan te trek. Dit is egter baie belangrik om jou klere goed te versorg en daar is 'n kuns aan verbonde.

Tracey is bekend daarvoor dat sy altyd mooi aantrek, maar sy erken dat dit partykeer stresvol kan wees om duur aandrokke goed te versorg.

Klere kan ook 'n belegging wees en Newton van die Butler Akademie het al klere regoor die wêreld vir bekendes vir glansgeleenthede voorberei.

Hulle deel hul topwenke om volle waarde uit elke kledingstuk te kry: 

1. ALLES BEGIN BY JOU AANKOPE
Begin deur die versorgingsetiket (care label) van 'n kledingstuk te lees. Bepaal die kwaliteit van die kledingstuk deur te kyk of die nate netjies gestik is, of dit voering het en of dit van natuurlike materiaal soos katoen, wol of sy gemaak is. Natuurlike materiaal het beslis 'n langer leeftyd. Hierdie klere is dalk aanvanklik duurder, maar kan jou op die lange duur baie geld spaar.

2. STOOR JOU KLERE REG
Die stoor van klere is baie belangrik en goeie hangers is altyd 'n wenner. Die beste is hangers is dié wat van hout gemaak is en verkieslik dié van sederhout. Die reuk van die sederhout hou ongewensde insekte weg.

Gebruik ook die regte hanger vir die spesifieke kledingstuk. Daar is verskillende hangers vir broeke, baadjies, rokke en hemde. Hou minder klere in jou kas om te voorkom dat dit kreukel en stoor die res, wat jy nie gereeld dra nie, in 'n ander kas.

3. KOOP TWEE VAN JOU GUNSTELING-ITEMS
Ons almal het 'n gunsteling hemp of broek, maar oppas om dit te veel te dra. Die gereelde was sal die kleur verbleik en die item kan uiteindelik skeur. Indien jy 'n kledingstuk koop waarvan jy baie hou, probeer dan 'n tweede van dieselfde item koop en wissel die twee items af.

4. WEES SLIM WANNEER JY KLERE WAS
Ons weet almal dat wit en gekleurde items geskei moet word voor dit gewas word. Nuwe klere waarvan die kleur in die eerste was kan afgee, moet liefs heeltemal op hul eie gewas word.

Die tydsduur van die was-siklus word bepaal deur hoe lank jy die item gedurende die dag gedra het.  Indien dit net vir 'n uur gedra is, kan 'n korter was-siklus gebruik word.

Gebruik natuurlike produkte en halveer jou wasbondels. In die wasmasjien moet klere genoeg spasie hê om te kan was en te spoel. 'n Oorvol wasmasjien wat op 'n té kort siklus gestel is, is 'n groot taboe.

Indien jy 'n item met die hand was, moet dit ook met die hand gespoel word. Ons kan dit nie genoeg benadruk dat die versorgingsetiket aan jou klere gelees moet word!

Vermy ook direkte son! Die son is skadelik vir ons klere, want dit verbleik die kleure en verswak die kwalitieit.

5. GEBRUIK 'N STOOMYSTER VIR STRYK
Wanneer dit by stryk kom, is jou beste belegging 'n stoomyster. Dit verfris die klere en is ook nie so warm dat dit die materiaal sal beskadig nie.

Stoom sommer ook jou gordyne ook. As jy onseker is oor die beste temperatuur vir stryk, begin by die laagste hitte. 'n "Preslappie" (soos ons ouma's ons geleer het) is nog steeds 'n treffer.  Katoen word altyd teen 'n hoër temperatuur gestryk as poliëster.

6. VERWYDER VLEKKE SO
Hoe verwyder jy rooiwyn-, kerrie- of ander vlekke wat per ongeluk op jou aandrok beland? Daar is net een goeie raad, hoe gouer jy die kol probeer uitkry hoe beter! Koue water is baie beter as warm water, aangesien die warm water die vlek kan vererger. Gebruik skoon alkohol of asyn om kolle te lig. Doen dit op 'n handdoek en gebruik 'n wattestokkie. Moet asseblief nie 'n bleikmiddel gebruik nie, maar probeer liewer wit tandepasta of ons gunsteling - koeksoda (bicarbonate of soda).

7. GEE JOU SWART NOMMERTJIE LUG
Velroom, parfuum en vreemde olies kan onherstelbare skade veroorsaak. Wanneer parfuum aangewend word, is die beste om dit in die lug te spuit en dan deur die parfuumwolk te loop.

As jy nie daarvan hou om jou deftige swart nommertjie gereeld te was nie, kan jy dit só by die huis doen: Hang dit in 'n area waar daar 'n trek of 'n briesie is, stoom dit met die stoomyster  en vee dit met 'n klam lappie af. Wag tot dit heeltemal droog is en hang dit weer op of pak die item weg.

8. KEER SO DAT KNOPE LOSKOM
Voorkom só dat jou knope se gare lostorring: Versterk deur 'n deursigtige naelpolitoer op die knoopsgare aan te wend. Onthou ook om alle knopies in aparte koevertjies te hou, indien jy dit moet vervang.

TRACEY VRA: HOE MOET EK MY AANDROKKE VERSORG?

NEWTON ANTWOORD
Goeie droogskoonmakers is beslis die antwoord, maar hulle moet gespesialiseerde droogskoonmaakwerk kan doen. Skep ook 'n inventaris van wanneer 'n kledingstuk die laaste keer skoongemaak is.

TRACEY VRA: WAT VAN WOL, SATYN EN LINNE?

NEWTON ANTWOORD
Hierdie items kan ongelukkig nie in die wasmasjien gewas word nie, maar moet met die hand apart en in koue water gewas word. My gunsteling produk is Woolite. Droog dit liggies uit en lê plat op 'n handoek in 'n koel en droë area neer om droog te word. Wees geduldig, want dit is 'n tydsame proses. Weereens kan ek dit nie genoeg sê dat die versorgingsetiket in alle gevalle gelees moet word nie.

NOG 'N BUTLERSWENK: Maak jou wasmasjien gereeld skoon om seker te maak dit werk optimaal