Dit is weer die tyd van die jaar wanneer ons almal uitnodigings ontvang vir eindjaarfunksies. Tracey word na 'n verskeidenheid glansgeleenthede uitgenooi en Newton moet raad gee oor wat toepaslike kleredrag is soos aangedui op die uitnodiging. Die vraag duik altyd op oor wat die verskil tussen formeel, semi-formeel en informele kleredrag is.

Die uitnodiging sê: “White Tie” (dis die formeelste voorkoms vir 'n geleentheid)

VROUE: Lang (vloerlengte) aandrokke; lang handskoene (opsioneel) en treffende juweliersware.

MANS:  'n Manelpak (tail coat) waarvan die langbroek strepies moet hê of van satyn kan wees, 'n gevleuelde hemp (wing shirt) met 'n wit strikdas en 'n satynband (cumberband) om die middel.

Die uitnodiging sê: Formeel/“Black Tie”

VROUE: 'n Aandrok, 'n korter skemerkelkrok of die immergewilde swart nommertjie.

MANS:  'n Tuxedobaadjie met bypassende langbroek; 'n formele hemp met mansjetknope, strikdas, satynband (cumberband) om die middel en swart skoene.

Die nuwe tendens vir “black tie” is om met strepe en kolle op hemde, dasse, strikdasse en sokkies te speel. Die voorkoms is steeds formeel, maar met spatsels wonderlike kleur.  Soos die Engelsman sal sê, jou “creative black tie”.

Die uitnodiging sê: Semi-formeel

VROUE: Weereens die swart nommertjie of  'n deftige romp met 'n kleurvolle of blink bloes. Langbroeke is ook dienlik. Vir Newton is 'n langbroek van linne altyd 'n treffer. Die kleurkombinasie is donkerblou en wit.

MANS:  'n Pak klere met 'n das, 'n mooi hemp en (Newton se gunsteling) 'n blou hemp met 'n wit kraag en 'n geel of goue das en leerskoene. Dra 'n paar bruin leerskoene by donkerblou.

Die uitnodiging sê: Informeel (bv. Erfenis-braaidag in die buitelug)

VROUE: Kies vrolike kleure, leersandale, mooi gordels, bykomstighede soos krale, natuurlike hare en ligte grimering. Jeans bly natuurlik immer gewild.

MANS: Die polo-uitrusting (polo look) is altyd 'n wenner – 'n mooi polo-hemp, 'n langbroek of 'n kortbroek. 'n Kakie-langbroek, bermuda- of kortbroek, 'n T-hemp met knope en mooi insteekskoene.

TRACEY VRA: Kan mans kortbroeke dra na semi-formele funksies?

NEWTON:  Ja, 'n man kan 'n kortbroek dra, maar slegs as hy 'n baadjie daarby aantrek. Hierdie uitrusting sal goed werk vir 'n troue wat gedurende die dag plaasvind.

Tracey vra: Indien ek 'n oopskouerrok dra en 'n koue weer word voorspel, mag ek 'n baadjie dra?

NEWTON:  Ja, 'n baadjie of 'n jas is aanvaarbaar en sodra jy binnenshuis is, kan jy die jas uittrek. Jy kan ook 'n mooi helderkleurige pasjmina om jou skouers dra.

Tracey vra: Kan mans hul baadjies aan die etenstafel by 'n formele funksie uittrek?

NEWTON:  Ja, maar hulle moet net onthou om elke keer wanneer hulle opstaan, weer hul baadjie aan te trek.

Tracey vra: Wat is die beste strikdas vir mans vir formele funksies?

NEWTON: Daar is twee soorte - die een wat inhaak en die een wat 'n mens self knoop. Ek verkies dié wat geknoop moet word en van satyn gemaak is.

Butlerwenk

Goeie leerskoene is 'n moet en rond jou uitrusting mooi af. Onthou ook om vooraf seker dat jou uitrusting skoon is, dat daar nie nate is wat uittorring nie en dat die uitrusting nog oordentlik pas. Soms kan die winterrolletjies veroorsaak dat die ritsluiter van jou gunsteling aandrok nie meer kan toegaan nie