Groot nuus! Tracey Lange, bekende TV-aanbieder en radio-omroeper op die Kaapse radiostasie Heart 104.9 FM, bring nou haar gewilde radiogeselsprogram oor etiket saam met Die Butler-skool se Newton Cross na Huisgenoot.com.

Hier sal jy nou elke week sy slim wenke kry vir alles van ’n professionele voorkoms en optrede tot hoe om 'n tas te pak.

Hier is die eerste aflewering in hierdie spesiale #HGWenk-reeks:

WAT PRESIES BETEKEN DIT OM PROFESSIONEEL TE WEES?

Ons weet eerste indrukke is blywend! Daarom is dit vir Tracey en Newton so belangrik dat ’n mens altyd die beste maak van enige geleentheid deur ’n goeie eerste indruk te skep. Baie aspekte kan daardie eerste indruk bepaal: Hoe jy aantrek vir 'n spesifieke geleentheid; of jy met selfvertroue kan gesels; of jou oë met lewenslus skitter; en selfs hoe jy 'n handdruk gee.

Hier is Newton se wenke om jou te help om ’n goeie blywende indruk te skep:

  1. Jou gedrag is altyd belangrik – hoe jy loop, deelneem en aantrek. Wees altyd stylvol, maar moet dit nie oordoen nie. Wees bewus van die tendense om jou, maar pasop om iets nuuts te probeer as jy onseker is hoe om dit reg te doen. Jy moet met gemak kan inskakel. Kies neutrale klere en gee dit lewe deur iets by te voeg wat blink en die oog vang. Die wagwoord hier is matigheid! Dit is nie altyd ’n glansgeleentheid nie, veral nie by die werk nie. Wag vir die regte geleentheid as jy jou wil opsmuk, maar wees stylvol.

  1. Oogkontak en die regte handdruk is ook baie belangrik. ’n Pap handruk weerspieël ’n gebrek aan selfvertroue. Die handdruk moet ferm wees, maar sonder om die ander persoon se kneukels te breek! En onthou om altyd ’n mooi glimlag te gee en die persoon in die oë te kyk wanneer jy ’n handdruk gee.

  1. Ruik altyd skoon, sag en vars, maar pasop vir te veel parfuum!
  1. Glimlag, glimlag, glimlag! Dit stel mense op hul gemak.
  1. Jou taalgebruik is ook baie belangrik. Gebruik woorde wat almal kan verstaan en probeer die taal wat jy praat, suiwer praat. Moenie jou tale meng nie. Hou ’n wag voor jou mond, luister wanneer daar met jou gepraat word en moenie ander in die rede val nie. Moenie met jou hare speel terwyl jy met iemand praat nie. Party mense sukkel om onderwerpe te vind om oor te praat en ’n mens hoef regtig nie jou kop hieroor te breek nie. Bespreek onderwerpe soos hoe jou laaste vakansie was of wat jy vir die naweek beplan, asook aktuele sake wat in die nuus verskyn. Probeer altyd in beheer wees van die gesprek. As jy aanvoel iemand probeer die gesprek beëindig, kyk na die persoon se voete. Wanneer mense se voete weggedraai is, dui dit daarop dat hulle wil loop.

  1. Vir Tracey beteken professionele optrede ook dat jy dinge sal onthou wat ander maklik vergeet. Professionele mense is altyd betyds en dien as verwysingspunt vir ander.

  1. In die kantooropset is ’n professionele kollega die een wat elke taak met ywer aanpak; altyd goed voorbereid is, diskresie gebruik en kantoorpolitiek vermy. Hy of sy sal altyd sorgsaam met kollegas kommunikeer. Moenie vloek nie, let op jou taalgebruik en vertel so af en toe 'n (skoon) grap!

  1. ’n Professionele persoon is ook iemand met onberispelike maniere, soos om die deur oop te hou vir ander. Dit is ook nie net 'n man wat dit hoef te doen nie.

  1. By die huis is dit iemand wat gaste met grasie kan onthaal deur die tafel mooi te dek en ’n smaaklike maaltyd voor te sit.

Vir Newton sowel as Tracey is die volgende tegnieke baie nuttig: Hou jou palms oop en na bo gedraai wanneer jy praat; laat jou voete in die regte rigting wys; onthou daardie groot glimlag; gee ’n ferm handdruk; jou persoonlike higiëne moet onberispelik wees; trek mooi en stylvol aan; moenie jou skuldig maak aan skinder of vloek nie; en wys baie positiewe lyftaal.