Bestaan telefoonetiket nog en is daar ’n ander stel etiketreëls vir selfone?

Niks voel so goed soos wanneer ek ’n sakeoproep maak en die mens wat antwoord praat duidelik en is professioneel en vriendelik nie, sê Newton.  Tracey beaam dit en sê sy is sommer in ’n slegte bui wanneer sy swak diens oor die telefoon ontvang.

In hierdie gejaagde tyd waar elektroniese media oorneem is telefoonetiket belangriker as ooit. Mense is gelukkiger wanneer hulle met iemand van vlees en bloed kan praat pleks van ’n opname. In die sakewêreld is dit ook belangrik dat maatskappye verstaan die eerste indrukke wat deur die antwoord van hul telefoon of sentrale gewek word, kan bepaal of die kliënt voortaan met hulle gaan sake doen of liewer die mededinger sal nader.

Newton sê hy leer al die butlers en personeel by die Butler-akademie die volgende stappe:

  1. Wees altyd vrolik en vriendelik wanneer jy die foon beantwoord en doen dit met ’n glimlag in jou stem.
  2. Praat duidelik en kyk op wanneer jy die foon beantwoord.  Dit maak die lugweë oop en voorkom dat dit klink of jy mompel of binnensmonds praat.
  3. Kondig die tyd van die dag aan, soos byvoorbeeld: “Goeie môre” of “Goeie middag” met die klem op die woord “goeie”.
  4. Luister deeglik na wat die kliënt verlang en maak notas tydens die gesprek. Laat die kliënt verstaan al jou aandag is op daardie oomblik by hulle.
  5. Maak seker jy help die kliënt of verwys hulle na die regte mens of afdeling. Die kliënt moet agterna kan dink of sê: “Watter wonderlike diens het ek nie van daardie maatskappy of mens ontvang nie!”
  6. Wanneer jy iemand beloof het om teen ’n sekere tyd terug te skakel, kom jou belofte na.
  7. Dit is belangrik om te weet dit is uiters slegte maniere om te eet of te gaap wanneer jy met ’n oproep besig is.
  8. Wat selfone betref geld dieselfde etiketreëls.

TRACEY SE VRAAG:

Tracey vra: Ek het onlangs in ’n tou gestaan in ’n supermark. Daar staan toe ’n man direk agter my wat kliphard op sy selfoon praat. Wat doen ’n mens in so ’n geval?

Newton antwoord: Tracey, daar is seker niks so erg soos ’n vreemdeling wat jou persoonlike ruimte betree nie. Verwyder jou uit so ’n situasie. Jy gaan seker nou lag, maar ek sit soms my mandjie of inkopietrollie agter my pleks van voor my, want dit help met die persoonlike ruimte-probleem. Dit is slegte maniere om op jou selfoon te praat wanneer jy in ’n tou staan. Ek weet dit is soms onmoontlik om dit te voorkom, dus skakel ek liewer my foon af sodat boodskappe gelos kan word. Ek hou nie daarvan om in ’n tou gedwing te word om na ander mense se persoonlike gesprekke te luister nie.