Baie van ons is lief vir 'n lekker braai! Maar is daar ook etiketvoorskrifte wat geld?

Tracey en  Newton deel hul wenlys:

1. Sodra jy by 'n braai aankom, bied hulp aan. Alles gebeur nie sommer met die swaai van 'n towerstaf nie. Maak 'n punt daarvan om 'n paar minute vroeër op te daag en 'n slaai saam te bring. Spring ook in en help aartappels skil of braaibroodjies berei.

2. Hoe eet 'n mens daardie geurig gebraaide tjoppie? Gebruik jy 'n mes en vurk of eet jy met jou hande? Newton sê beslis nee vir eet met jou hande aan die etenstafel! By 'n piekniekplek of kampeerterrein is dit 'n ander storie. "Tracey, wat dit betref, is ek maar outyds en eet altyd met 'n mes en 'n vurk," sê Newton.

As jy verkies om met jou hande te eet, moet jy jou servet byderhand hou en asseblief nie met iemand praat terwyl jou hande saampraat nie, sê hy.

3. Die ideale braai bestaan uit uiteenlopende geregte. Maak seker dat jy genoeg bykosse het en dek 'n buffet wat lank onthou sal word. Dit is belangrik dat daar minstens twee slaaie moet wees. Vir diegene wat gesondheidsbewus is, kan blomkool in plaas van aartappels in die slaai gebruik word. Sit souse in bakkies voor en nie in hul plastiekhouers nie. Suurlemoenskyfies kan voorgesit word vir geur op vleis en hoender. Vir interessante braaibroodjies (gebruik gerus gesondheidsbrood), smeer tapenade daarop of 'n lekker pesto.

4. Wat van sosatiestokkies? Eet jy dit met jou hand? Heeltemal aanvaarbaar wanneer jy in die buitelug is, maar die reël is dat jy dit met 'n mes moet afsny wanneer jy by 'n etenstafel aansit.

5. Vingerbakkies? Ja asseblief! Plaas dit op die tafel indien daar geregte soos ribbetjies is wat met die vingers geëet word.

TRACEY VRA: Gebruik 'n mens 'n papierservet of  een van materiaal?

NEWTON ANTWOORD: Wanneer ons buite in lekker sonskynweer kuier en ons het op 'n spesifieke tema besluit, gebruik ek graag mooi papierservette. Onthou, dit is net wanneer jy van papierborde gebruik maak. As 'n reël verkies ek liewer kleurryke borde en materiaalservette. Dit is baie elegant en vrolik wanneer jy geruit en bont meng vir 'n braai.

TRACEY VRA: Moet jy jou eie drankies saamneem na 'n braai?

NEWTON ANTWOORD: Nooit, maar nooit mag jy met leë hande by 'n geleentheid opdaag nie. 'n Paar lekker geskenk-idees is blomme, beskuit en wyn, en bring beslis jou geliefkoosde drinkdingetjie saam. 'n Groot dankie aan die gasvrou of -heer aan die einde van die gesellige saamkuier en 'n dankiesê-SMS is baie belangrik.

#HGWENK

LEES OOK:

#Maakso! Lente is tyd vir skoonmaak. Waar begin ek?

Hoe om professioneel op te tree