Daar is seker niks so mooi soos goeie maniere nie. ’n Ete bring ’n groep mense bymekaar en dit skep ’n gemoedelike atmosfeer. Dit is baie belangrik om te onthou dat goeie manier ’n uitstekende indruk maak.

Ons noem dit Spaghettiquette! Die regte manier van eet.

Partykeer kan kos nogal moeilik wees om te eet en nie almal weet hoe om ’n mes en vurk reg te gebruik nie. Dit is belangrik dat ons moet weet hoe om “moeilike” geregte mooi te eet. Kom ons kyk na ’n paar interessante kosse.

Appels: Wanneer ’n mens ’n appel vir nagereg kry of net normaal eet, moet jy dit met jou nagereg-eetgerei sny en eet. Maak seker dat jy die appel in kwarte sny en dan met jou lepel en vurk eet.

Artisjokke: Hier mag jy jou vingers gebruik. Maak seker dat jy ’n vingerbakkie het om jou vingers skoon te spoel. Skil die artisjokke blaar vir blaar af en suig dan elegant die onderste “vleisgedeelte” van die artisjok af. Gewoonlik doop ’n mens dit in ’n sous soos béarnaise of ’n mengsel van olyfolie en balsemieke asyn. Wanneer ’n mens by die kroon kom, sny en eet jy dit met ’n mes en vurk.

Lees ook: So kan ’n hoëvetdieet jou gesondheid skaad

Aspersies: As dit as voorgereg voorgesit word, moet jy dit met jou linkerhand in ’n bottersous doop en dan eet. Wees versigtig en moenie enige kommentaar lewer terwyl jy dit eet nie, byvoorbeeld: “Sjoe, dit is darem morsig!” Dit kan jou in ’n slegte lig stel.

Brood: Moet nooit ’n broodrolletjie sny nie; breek dit met jou hand in klein happies. Dit is nie die regte etiket om brood in die helfte te sny en dan baie botter daarop te smeer nie. Neem jou tyd en doen dit reg. Plaas die brood op die bord wanneer jy botter daarop smeer en moenie dit in die lug doen nie!

Burgers: Burgers is ontwerp om met die hande te eet, maar, Tracey, ek verkies deesdae om burgers met ’n mes en vurk te eet. Dit lyk darem net beter. ’n Mens kry deesdae spek, eiers, piesang en so meer op ’n burger en dan raak dit net te groot om met die hand te eet. My beste raad is: Haal die boonste rolletjie af en sny die burger met ’n mes en vurk en eet mooi met jou mond toe!

TRACEY VRA: Newton, wat as ’n mens kougom in jou mond het voor jy bogenoemde kosse moet eet?

Dankie, Tracey, die beste is om jou van die tafel te verskoon, toilet toe te gaan en die kougom uit jou mond uit te haal.

Lees ook: #Maak so! Is ‘n braai net ‘n braai?

TRACEY VRA: Daar is baie geleenthede wat ek bywoon en daar is altyd vingerhappies. Hoe eet mens die happies op ’n mooi manier?

NEWTON ANTWOORD: Tracey, daar is niks so erg soos vingerhappies wat so groot soos deurstoppers is nie. Dit is onmoontlik om dit mooi te eet. Die regte vingerhappie moet klein genoeg wees om in jou mond te pas. Onthou net, Tracey, as jy sukkel met so ’n enorme happie moet jy dit liewer los of dan so stadig en elegant moontlik van ’n kant af eet. Die ander mense by die geleentheid gaan ook sukkel met sulke groot happies. Hou altyd ’n servet byderhand. Ek het al sulke ondervindings met harde bruschetta gehad wat ’n mens se verhemelte sny as jy te hard byt.

TRACEY VRA: Newton, soms bring mense hul kop nader aan die bord terwyl hulle eet. Is dit regte etiket?

NEWTON ANTWOORD: Tracey, hoegenaamd nie. Jy moet altyd jou eetgerei na jou mond toe bring pleks van vooroor na jou bord te buig.

Nog ’n goeie wenk, Tracey, is om ander mense dop te hou, soos in die rolprent Pretty Woman. Deur ander se optrede waar te neem, kan jy baie leer van die regte of verkeerde maniere.

#HGWENK

LEES OOK:

* #Maak so! Is ‘n braai net ‘n braai?

#Maakso! Lente is tyd vir skoonmaak. Waar begin ek?

Hoe om professioneel op te tree