Desember is ’n tyd wanneer die meeste Suid-Afrikaners ’n ruskans kan neem en ’n bietjie wegbreek van die alledaagse gejaag.

Sommige voer ontspanning egter ’n bietjie ver en ervaar groot ongerief of kom selfs ’n ramp oor omdat hulle vergeet om fyner detail na te gaan.

“Duisende sterftes en beserings tydens Desember kan voorkom word as mense vooraf liewer dubbel seker maak van dinge. Om ’n band, bout, gasklep, ’n gebluste vuur of selfs ’n weerverslag ’n tweede keer na te gaan kan letterlik die verskil tussen lewe en dood wees,” sê Elmarie Twilley, woordvoerder vir Virseker.

Padgereedheid 

Klein dingetjies soos los boute, slegte wielsporing of -balansering, lekke of lae vloeistofvlakke kan jou vakansie in ’n ramp laat ontaard nog voor dit behoorlik afgeskop het. Laat ’n deeglike veelpunt-ondersoek van jou voertuig doen om seker te maak dit is gereed vir die langpad.

Sleep

Gaan alle sleepstangboute na om seker te maak hulle is behoorlik vas. Maak dubbel seker dat die veiligheidsketting en elektriese kabels deeglik vas is en dat alle ligte korrek werk.

Laai

Maak seker jou voertuig is nie oorlaai nie. Gaan alle dak- en drarakke na en maak seker hulle en hul vrag is behoorlik vas.

Kampering en staptogte

Hou altyd ’n ogie op die weervooruitsigte en beplan daarvolgens. Moenie jou voertuig buite sy vermoëns dryf nie. Wanneer jy buite kampeerterreine kampeer, kies ’n plek met ’n lae risiko vir weerligstrale, rotsstortings, fratsvloede en ander natuurlike gevare. Maak seker dat jou vuur behoorlik geblus is voor jy ’n terrein verlaat. Maak dubbel seker dat jy altyd een of ander vorm van sellulêre of satellietdekking vir ’n noodgeval het.

Watertuie

Hou altyd die weer dop. Gebruik slegs aangewese plekke om die vaartuig te water te laat en weer te laai. Moenie te naby plekke beweeg wat deur mense soos baaiers en vissermanne gebruik word nie. Maak veral in die geval van kleiner tuie dubbel seker dat jou tuig sigbaar is vir ander.

Doen jou huiswerk deeglik oor die plek wat jy besoek en wees bewus van enige gevare wat in sekere weersomstandighede of op bepaalde tye van die dag kan ontstaan.

Braaityd

Moenie in winderige omstandighede braai nie, veral in die lig van die huidige droogte in die land. Hou by hulpmiddels wat ontwerp is om ’n vuur aan die gang te kry – moenie improviseer nie. In die geval van gasbraaiers, maak seker dat alle silinders, kleppe en pype behoorlik seël.

Wanneer jy klaar gebraai het, draai eers die klep toe om al die gas in die pyp kans te gee om ook weg te brand voor jy die beheerknoppe op die braai self afskakel.

Die laai van toestelle

Gebruik die korrekte laaier en reislaaier – die feit dat die laaier jou elektriese of elektroniese toestel pas, beteken nie noodwendig dit verskaf die regte lading nie. Pasop vir goedkoop namaaksels omdat dit batterye kan laat oorverhit. Los ’n laaiende toestel in ’n goed geventileerde plek buite sy deksel om ’n brandrisiko te vermy.

Kinders in vakansierat

Grootmense beskou die vakansie as ’n tyd vir ontspan, maar vir kinders is dit een reuseavontuur. Ouers se middagslapie, gekoppel met kleinding se wil om te verken en eksperimenteer, kan tot ’n ramp lei.

Versekering

Dit is van kritieke belang dat alle waardevolle items veilig weggebêre en deeglik verseker is. Dit is ’n moet om jou versekeraar se padbystand- en ander noodnommers te alle tye byderhand te hê.