LOK EN VOER SKOENLAPPERS

Meisie hang vlinderbottel aan 'n tak

Maak ’n vlinderbottel

Maak ’n bottel of ’n blikkie vol blomme – hoe helderder, hoe beter – en voeg ’n sponsie wat in suikerwater gedoop is, daarby om die vlinders na jul tuin te lok. Julle kan ook oorryp vrugte op ’n bordjie neersit (kyk onder).

Julle het nodig

1 glaspotjie met ’n skroefdeksel

1 spyker of ander skerp punt

1 stuk tou van sowat 1,3 meter (ons het helderkleurige tou gekies om die prentjie kleurryker te maak)

naald en gare

verskeidenheid kunsblomme

1 standaardgrootte-kombuissponsie

suiker

water

1 glasie

1 teelepel

1 kombuishaak

Benodigdhede om vlinderbottel op te hang

Maak so 1 Druk met ’n spyker ’n kleinerige gaatjie in die deksel. 2 Sny ’n stuk tou van 30 cm van die langer stuk tou af. Bind dit styf om die nek van die bottel. 3 Sny nog ’n stuk tou van sowat 55 cm lank. Knoop dit aan die tou om die nek vas en strek dit aan een kant van die bottel af tot by die bodem. Knoop ’n lus van sowat 15 cm lank by die bodem, strek die tou aan die teenoorgestelde kant van die bottel op en knoop aan die tou om die nek vas. 4 Sny ’n laaste stuk tou van 37 cm en knoop en strek dit soos by 3 hierbo om die bottel, maar sonder om ’n lus by die bodem te maak. 5 Druk die kunsblomme onder die toue in en werk vas met naald en gare. WENK As dit nie vasgewerk is nie, gaan die wind dit wegwaai.

6 Sny ’n repie van sowat 10 cm x 2 cm uit die spons. 7 Druk een punt van die spons deur die gaatjie in die deksel. Trek die sponsie deur die gaatjie tot daar 2 tot 3 cm uitsteek. 8 Maak suikerwater deur 1 deel suiker by 9 dele water te roer. en giet die oplossing in die flessie. Skroef die deksel toe. 9 Draai die bottel onderstebo sodat die sponsie onder is. Die sponsie behoort net-net nat te bly met die suikeroplossing. 10 Haak die lus aan ’n hakie en hang die vlinderbottel aan ’n boomtak op. Smulkos vir skoenlappers Oorrype vrugte op 'n stompie uitgepak Plaas oorryp vrugte op ’n stuk hout of stomp. Versier dit met helder papierskoenlappers: Kap ’n drukspyker in die hout. Vou gekleurde papier dubbel en knip vlindervorms daaruit. Druk 2 stukkies bloemistedraad in die lengte deur die vlinder se lyfie – dis die voelers. Draai die onderste punt van die draad om die drukspyker. Buig tot mooi. LOK EN VOER VOËLTJIES

Kosbakkies vir voëls

Daar is allerhande maklike maniere om voëltjievoerders te maak. Jy kan sommer stukke dagoue brood aan albei kante met grondboonbotter smeer, dit in saad doop en aan ’n boom ophang, of dié twee interessante metodes beproef:

1 Pampoenvoerder

Hol ’n pampoen uit en vul dit met sade en ander voëlkos. Sit dit op ’n plek in die tuin waar dit mooi lyk. Net vir katlose tuine!

Pampoenvoerder

2 Smulbakkie

1 Maak 3 gaatjies ewe ver van mekaar aan die buiterand van ’n plastiekbak.

Groen bakkie met 3 gaatjies2 Ryg stukke tou deur die gate en knoop dit aan die onderkant van die plastiekbak vas.

Groen bakkie met gare deurgeryg

3 Knoop die ander punte van die 3 toue bo aan mekaar vas. Sit sade in die bakkie en hang dit aan die tou op.

Resepte vir voëltjiepoeding

Voëls sal heerlik hieraan smul . . .

1 Maak sowat 450 g kookvet in ’n pan warm sodat dit sag kan word. Meng dit met 1 k warm water, 2 k hawermout, 1 k meel en 4 k voëlsaad en plaas in jou voëltjievoerder.

2 Plaas 1-2 k kookvet in ’n bakkie saam met heuning en uitgebraaide brokkies spekswoerd. Laat die bakkie in warm water staan. Voeg droë broodkrummels of voël­saad by wanneer die vet begin smelt. Roer die mengsel en vorm in ’n bol. Plaas in ’n houer en laat dit afkoel en styf word. Plaas dit in ’n stuk netmateriaal – die net waarin ’n mens uie of aartappels koop, werk goed – en hang dit in die tuin op.

Bron Huisgenoot Speel Somer 2012/13

Visuele leiding en stilering Tina-Marié Malherbe

Produksie Marianne Burke

Illustrasies Anton Vermeulen

Foto’s Peet Mocke

Model Mischa Hugo van Kidz 2000