Huisgenoot se kosredakteur, Carmen Niehaus, verduidelik hoe om bestanddele behoorlik af te meet wanneer jy kook. Ja, soms is dit beter om ’n skaal as ’n maatkoppie te gebruik!

  • Die volume (ml) en massa (gram) van bestanddele is nie dieselfde nie, byvoorbeeld 250 ml suiker = 200 g suiker en 250 ml semels = 30 g semels. Jy kan nie die afmetings na willekeur omskakel nie.

  • Droë bestanddele moet verkieslik geweeg word. Voor jy bestanddele weeg, maak seker die skaal is op 0 gestel nadat jy die weegbakkie bo-op geplaas het.

  • Gebruik andersins maatkoppies in verskillende groottes, soos 50 ml, 60 ml, 125 ml en 250 ml om suiker of meelblom mee af te meet, pleks van ’n maatbeker met ’n tuit. Skep die meel of suiker in die maatkoppie tot dit oorvol is, en vee die oortollige meel of suiker met ’n spaan gelyk. Moenie dit in die maatkoppie druk of gelyk vee met ’n lepel of jou hand nie.

  • Water, olie, melk of stroop word in ’n gekalibreerde maatbeker afgemeet, verkieslik een met ’n tuit. Maak dit vol tot by die verlangde vlak en maak seker dis korrek deur van die kant af na die beker te kyk. As jy van bo af kyk, maak jy ’n parallaksfout en sal dit nie die regte hoeveelheid wees nie.

  • Vir klein hoeveelhede, soos gismiddels en geurmiddels, gebruik maatlepels – 15 ml, 12 ml, 5 ml, 2 ml en 1 ml. Maak die droë bestanddele met ’n spaan gelyk.

  • Smere moet verkieslik geweeg word. ’n Hele blok margarien of botter kan eers liggies op die middellyn gemerk word voor dit in kwarte verdeel word.

Deur Carmen Niehaus