As jy ’n wegbreekvakansie beplan, moet jy dalk iemand kry om jou huis op te pas.

[caption id="attachment_113674" align="alignnone" width="600"]Foto: Appleproperty Foto: Appleproperty[/caption]

Dis belangrik om bewus te wees van die voor- en nadele as jy ’n huisoppasser kry, sê Lizette Erasmus, hoof van versekeringskundigheid by IntegriSure. Sy deel ’n paar wenke oor wat jy in ag moet neem. “Dis baie belangrik om die regte huisoppasser te kies omdat die mens vir ’n tydperk in direkte kontak met jou waardevolle bates is. Dis belangrik om te verseker jy’s behoorlik gedek en beskerm as iets onvoorsiens sou voorval of iets beskadig word.”

Dis belangrik om te verseker jy’s behoorlik gedek en beskerm as iets onvoorsiens sou voorval of iets beskadig word.

Lizette sê dis belangrik om sekere goed in ag te neem wanneer jy potensiële kandidate kies. “Huur iemand van ’n betroubare maatskappy wat hierdie professionele dienste bied en wat hul kandidate behoorlik kan nagaan en oplei. Of vra iemand wat jy ken en vertrou, soos ’n familievriend of naby familielid.”

As dit kom by risiko’s as daar ’n voorval is, soos ’n rooftog of skade weens die oppasser se optrede, is dit belangrik om jou versekeringsdekking na te gaan.

“Doen spesifiek navraag oor of beskadiging asook diefstal deel van die standaardversekering uitmaak. Dis geringe voorsorgmaatreëls wat die moeite werd is om te oorweeg voor jy met vakansie gaan of ’n oppasser huur.”

Ander belangrike stappe om te volg as jy ’n huisoppasser gekies het en moeilike situasies wil vermy:

  • Maak seker die oppasser het jou kontakbesonderhede in geval van nood.
  • Gee die oppasser die kontakbesonderhede van jou sekuriteitsmaatskappy, buurtwag, bure se besonderhede, die plaaslike polisiekantoor, brandweer asook die veearts se kontakbesonderhede as jy troeteldiere het.
  • Maak seker die oppasser weet waar die hoofkragtoevoer en hoofwatertoevoerkraan is sodat dit in ’n noodgeval, soos as die geiser bars, toegedraai kan word.
  • Gee die kontakbesonderhede van die hulpdiensteafdeling van die maatskappy waar jou huis verseker is sodat noodherstelwerk so gou moontlik gedoen kan word om skade te beperk.
  • Sluit alle elektroniese toestelle soos skootrekenaars en iPads, asook kosbare juweliersware toe. Verwyder ook waardevolle ornamente en kunswerke en sluit dit toe in ’n kamer wat nie in die tydperk gebruik gaan word nie.
  • Lig die oppasser in as enige diensverskaffer werk in en om jou huis gaan kom doen om enige moontlikheid uit te skakel dat diewe onwettig toegang tot jou huis verkry.

As jy teen ’n huisoppasser besluit, is dit steeds belangrik om jou versekeraars in te lig as niemand vir ’n tydperk van 60 dae of meer tuis gaan wees nie. Dit word as ’n risiko beskou en versekeraars kan dalk ’n ekstra premie vir die tyd vra waarin jou huis leeg staan.

“Dis ’n goeie idee om tydens die Desembervakansie ’n oppasser te kry en gee eienaars die kans om daagliks te hoor hoe dinge by die huis gaan. As jy bogenoemde wenke volg, sal dit help om die proses maklik en stresvry te maak en jou gemoedsrus gee terwyl jy weg is.”

Bron: IntegriSure