Dis nie maklik om die soet happies te vermy wat in die kas wegkruip wanneer jy rondskarrel terwyl jy koskook nie, maar dis wel moontlik.

Hier is ’n paar wenke oor hoe jy die hart van die huis kan omskep in ’n plek waar jy gewig kan verloor, pleks van aansit.

1. Hou meetgereedskap byderhand Wanneer jy die kos kies en rangskik wat jy vir jou maaltyd wil gebruik, sluit jy dalk meer in as wat jy nodig het of gebruik groter hoeveelhede as wat aanbeveel word. As jou skaal, maatkoppies of enige ander gereedskap byderhand is of net ’n armlengte ver, sal dit op die lange duur ’n yslike verskil maak en jou bewus maak daarvan dat jy te veel eet. Jy eet dalk gesonde kossoorte, maar as jy te veel daarvan verorber, bewys jy jou nie ’n guns nie.

'As jy goed uitgooi en dit deur gesonder opsies vervang, sal jy geen gemorskos hê om aan weg te lê wanner die lus vir soetgoed jou beetpak nie.'

2. Berei gesonde happies vooraf

As jy geneig is om na die koekieblik in die kombuis te reik, maak seker dat jy ’n gesonde alternatief het. As jy vars vrugte en groente in stukkies sny en in die koelkas bêre, sal jy enige verleiding kan weerstaan wat in die kaste skuil, en jou liggaam in ’n uitstekende toestand kan hou.

Maak dit selfs makliker deur seker te maak dit word naby die deur gebêre, pleks van heel agter in die koelkas sodat jy dit sommer in die verbydraf kan nader trek. Terwyl jy nou hierdie happies berei, kan jy sommer ’n paar in die vrieskas sit vir die slag dat jy terugkom toe ná ’n wegbreeknaweek waarin jy jou oorgegee het aan lekker eet.

3. Ruim op

Goed wat rondlê, laat mense stres, en dan is hulle geneig om meer te eet of om kilojouleryke happies te kies. As jy dus jou kombuis netjies hou, kan jy die kans minimaliseer dat jy verkeerd sal eet. Maak seker dat alle kos in die kas gebêre word, en behalwe vir die gereedskap waarmee jy meet, sorg dat jy net die noodsaaklikhede op jou toonbanke het.

Dieselfde geld vir allerlei toestelletjies; as jy miljoene versappers en mengers van alle soorte het, besluit watter jy die meeste gebruik en pak die res weg. Bowenal, as jy gedurig in die verskillende masjiene vaskyk wat jou in staat stel om smaaklike en ongesonde kos aanmekaar te slaan, sal jy meer geneig wees om dit te gebruik.

4. Moenie opgaar nie

Dit kan ook help as jy elke paar maande jou laaie, kaste en koelkas deursoek. As jy drie maande gelede ’n botteltjie grondboontjiebotter gekoop het en dit nog nie gebruik het nie, hoekom is dit daar? Jy hoef nie noodwendig goed te vermors en dit weg te gooi nie, maar miskien kan jy ’n gesonde resep kry waarin jy dit kan gebruik, of neem dit na ’n vriendin se huis sodat hulle dit vir iets kan gebruik.

As jy goed uitgooi en dit deur gesonder opsies vervang, sal jy geen gemorskos hê om aan weg te lê wanner die lus vir soetgoed jou beetpak nie. Gebeur dit wel, koop een bederfie op ’n keer pleks dat jy hope sjokolade of koekies in jou kas aanhou.

© Cover Media