Amper almal het al gesien hoe hy moeiteloos die heerlikste konkoksies optower, en ’n mens kan net daarvan droom om eendag selfs net amper so goed soos hy te bak en kook! Intussen kan jy maar ontspan, want Jamie Oliver het ’n maklike resep net vir jou.

Sjokoladebruintjies is die perfekte lekkerny vir ’n partytjie, ’n eenvoudige geskenk vir iemand spesiaals en natuurlik spotmaklik om te maak.

Kyk ’n bietjie hoe maak ’n mens dit op Jamie Oliver se manier.

Jy kort:

250 g ongesoute botter

200 g donkersjokolade (70-persent-kakao)

75 g gedroogde suur kersies (opsioneel)

50 g gekapte neute (opsioneel)

80 g kakao (gesif)

65 g koekmeel (gesif)

1 teelepel bakpoeier

360 g strooisuiker

4 groot eiers

1 geskilde lemoen (opsioneel)

250 ml crème fraîche (opsioneel)

Verhit die oond tot 180 °C.

Plaas bakpapier in ’n 24 cm vierkantige bak.

Smelt die botter en sjokolade, en meng tot glad in ’n groot kastrol oor water wat prut. Voeg die kersies en neute by en roer.

Meng die kakao, meel, bakpoeier en suiker in ’n aparte bak. Voeg die droë bestanddele by die sjokolade en neutemengsel. Roer goed. Klits die eiers en meng dit deeglik by die res van die bestanddele in.

Gooi die mengsel in die bakplaat en bak dit sowat 25 minute. Dit moenie te gaar wees nie, want dis nie soos ’n koek nie – ’n stokkie hoef nie skoon uit te kom nie. Dit moet effens bros aan die buitekant wees, maar steeds sag in die middel.

Laat dit afkoel in die pan en sny dit dan in dik blokkies.

Dis wonderlik as nagereg voorgesit saam met ’n skeppie crème fraîche en ’n paar lemoenskille.

Geniet dit!

Hierdie resep kom uit Jamie se Little Book of Big Treats.

-         Megan Bursey