As jy gelukkig is, kan jy net ’n gillery en ’n paar ongeskikte handgebare te wagte wees, maar ongelukkig raak dit dikwels baie gewelddadiger. ’n Man, ene Douglas Pierce, is onlangs in so ’n voorval doodgeskiet.

Maak seker jy weet hoe om mislike motorbestuurders te hanteer sodat jy nie jou lewe of medepadgebruikers s’n in gevaar stel nie.

Hier is nuttige wenke van Tiger Wheel & Tyre.

  1. Moenie persoonlik raak nie. Onthou, die meeste padwoede gaan nie soseer oor wat op die pad gebeur het nie, maar oor wat in die padbuffel se eie lewe aangaan. Moenie die vuur aanblaas deur te reageer nie.
  2. Vertrek vroeg. Gun jou ’n ekstra 10 minute om jou bestemming te bereik. So sal jy kalmer bly ingeval die verkeer swaar is of as iemand voor jou inry. Dit beteken ook jy gaan nie so vinnig ry nie, iets waarby almal op die pad kan baat vind.
  3. Ontspan! Haal ’n paar keer diep asem voor jy reageer op iemand wat swak bestuur. Beheerste asemhaling laat jou ontspan en verlaag jou bloeddruk.
  4. Moenie ongeskik wees nie. Moenie tussen bane weef, jaag, jou ligte flits, onbeskofte handgebare maak, beledigings kwytraak of enige ander gedrag toon wat iemand kwaad kan maak nie. Los ook jou selfoon uit; dink net hoe kwaad jy raak wanneer jy iemand verbysteek wat stadig ry, en dan sien hulle is doenig met hul selfoon.
  5. Erken as jy verkeerd is en vra verskoning. Dit gaan keer dat ’n situasie handuit ruk. Jy kan, as jy ’n fout gemaak het, jou gevaarligte flits om te wys jy besef dit en dat jy jammer is.