’n Mens staan verstom oor die dubbele werk wat deur so baie huishoudelike produkte verrig kan word: Tandepasta wat nie net tande kan skoonmaak nie, maar ook DVD's, silwergoed en goud. Hier is ’n paar slim planne maklik bederfbare kos vars te hou:

AVOKADO'S

Hou die ongebruikte helfte groen deur dit met koue water af te spoel, droog te maak en in die yskas te plaas.

(Wenk deur Esté Langeveldt, Kaapstad)

PIESANGS

Moenie piesangs as ’n tros of saam met ander vrugte in ’n vrugtebak bêre nie. Maak die piesangs los van mekaar en plaas elkeen op ’n ander plek. Piesangs gee gasse af wat vrugte, ander piesangs inkluis, vinniger laat ryp word.

BLAARSLAAI

Hou dit in papiersakke eerder as plastieksakke in die yskas. Plastieksakke vang nattigheid vas en laat die slaai gouer sleg word.

(Wenk deur Tina Krynauw, Kaapstad)

BRUINSUIKER

’n Stuk brood in die houer oornag maak bruinsuiker wat hard geword het weer sag.

(Wenk deur Tina Krynauw, Kaapstad)

KOEKIES

Klein koekies bly langer vars as jy ’n laag suiker onderin die bak strooi.

(Wenk deur Evelyn Thompson, Steynsburg)

KAAS

Bêre die kaas in sellofaansakkies soos leë WeetBix-sakkies. Dit hou die kaas sag en sorg dat dit nie uitdroog nie.

GEMMER

Skrop die vars gemmerwortel sodra jy tuis kom, sny in fyn skyfies, plaas in ’n fles en bedek met sjerrie of wynasyn. So bly dit maande lank sappig en gebruikgereed. Dis nie nodig om die gemmer eers af te skil nie.

(Wenk deur Harriet Meier, Johannesburg)

GROENTE

Plaas ’n paar velle koerantpapier in die groentelaai in die yskas. Ruil die koerantpapier elke week om.

(Wenk deur Karen Herman, Randburg, Johannesburg)

AARTAPPELS

Hou ’n appel by die aartappels in die sak om te keer dat die aartappels begin uitloop.

MELK

Voeg ’n knippie sout by die kartonhouer wanneer jy dit die eerste keer oopmaak. So sal dit langer vars bly.

(Wenk deur Fatimah Mia)

BROOD

Hou brood vars deur dit saam met ’n groot vars, gewaste aartappel in die broodblik te bêre.

WARM WENK!

Plaas vars vis in koue water - as dit dryf, is dit kort tevore gevang. Jy kan bevrore vis in melk laat ontdooi. Dit sal die vriessmaak uithaal en dit laat proe asof dit pas nog in die see was.

(Wenk deur Abigail Moodley)

Het jy kreatiewe wenke wat jy brand om te deel? Stuur dit aan ons per e-pos by web@huisgenoot.com!