Jy hoef nie meer te sukkel nie; nou kan jou oorskietvrugte en -groente in iets nuuts en eetbaars omskep.

Dit is so maklik soos om die oorskietstukkies in water en grond te sit.

Hier is vyf soorte groente en vrugte wat jy by die huis kan plant.

  1. Aartappels en patats: Sny ou aartappels in kleiner stukkies, met sowat twee of drie ogies. Los dit tot twee weke om uit te droog. Grawe ’n sloot van sowat 15 cm diep en begrawe die aartappels met die ogies na bo. Bedek met ’n paar sentimeters grond en water weekliks. In 2-4 maande sal jy jou eie aartappels hê.
  2. Sampioene: Dié proses kan nogal moeilik wees, en vereis dat jy die dop van die sampioen afhaal en die steel plant. Dit moet in ’n mengsel van grond en kompos geplant word, en net ’n klein deeltjie daarvan moet bo uitsteek. Skropgoed en hooi is goeie idees vir kompos. Die sampioene moet in ’n koel, klam plek met min lig gehou word. Sodra dit begin groei, gaan jy ’n paar maande voorraad het.
  3. Uie: Uie is seker een van die veelsydigste, lekkerste groente. ’n Mens kan nie ’n lekker bredie of pot sop sonder hulle indink nie. Om jou eie te groei moet jy net tussen 2,5 en 4 cm van die wortelkant van die ui afsny, maar los ’n groot genoeg stuk ui aand. Laat dit ’n paar uur droog word. Plant dit met die wortelkant na onder in grond, water elke paar dae, en kort voor lank het jy jou eie uie.
  4. Pynappel: Om jou eie pynappel te groei is ’n lang proses; dit kan tot drie jaar duur. Sny die kroon van die pynappel af, maar maak seker jy los van die vrug aan. Laat dit ’n dag of twee uitdroog. Sit die pynappel in die grond, laat genoeg plek vir dit om te groei en laat die natuur sy gang gaan.
  5. Gemmer: Dié wortelstok is propvol anti-oksidante en beveg naarheid, inflammasie en bewegingsiekte. Dit is ook duur en soms moeilik om in die hande te kry. Nou kan jy jou eie voorraad van die wonderplant hê. Koop ’n vet stuk gemmer, week dit oornag in water en plant dit in sowat 8 cm goeiegehalte-grond. Jy kan dit in kleiner stukkies sny of heel hou. Water dit gereeld; dit sal ná sowat agt maande ryp wees.

- Megan Bursey

Bronne: mashable.com, tropicalpermaculture.com, herbgardens.about.com