Baie van ons was al in hierdie situasie: ’n vriend kontak jou herhaaldelik op WhatsApp, maar jy het net nie nou die tyd of die geduld om aandag aan hul nuutste lewenskrisis af te staan nie.

whatsapp1
 

Maar jy besef, die oomblik dat jy daardie WhatsApp-boodskap lees, gaan daardie twee blou regmerkies aan sy kant dadelik jou onderduimse plan weggee om bloot sy boodskap te lees – en seker te maak dis darem nie te dringend nie – en eers later terug te skryf.

Daar is ’n maklike manier om hierdie penarie op te los, en nee dit is nie om die blou regmerkies in WhatsApp se verstellings te gaan afskakel nie. Jy wil dit immers nie self verloor wanneer jy met iemand anders gesels nie!

Lees ook: Die 25 swakste wagwoorde van 2015 is belaglik maklik om te raai

Hoe nou gemaak? Wanneer jy ’n boodskap ontvang wat jy graag wil lees, maar nie noodwendig wil hê die ander persoon moet weet jy het dit gelees nie, gaan bloot na jou selfoon se verstellings en aktiveer die sogenaamde “airplane mode”.

In “airplane mode” word die foon se internetverbiding – WiFi sowel as 3G – afgeskakel.

Die foon het reeds die boodskap afgelaai; so jy kan na hartelus in WhatsApp ingaan en die boodskap lees, maar die sein om die regmerkies aan die kant van die ander persoon te verander, sal nie deurgaan nie.

Lees ook: Top tien vreemdste fobies

Jy moet wel seker maak jy is nie op WhatsApp wanneer jy “airplane mode” aktiveer nie. Sodra jy weer gereed is dat die blou regmerkies maar gestuur word, moet jy ook weer WhatsApp verlaat, “airplane mode” afskakel, en teruggaan na die app.

Ander nuttige WhatsApp-wenke sluit in:

  • Keer kennisgewings van irriterende groepe waartoe jy behoort: Hou jou vinger op die groep waarvan jy die kennisgewings wil blokkeer. Gaan na “group info” waar jy die opsie sal aantref om kennisgewings te “mute” vir 8 uur, ’n week of ’n jaar.
  • Vind uit presies wanneer iemand ’n boodskap gelees het: Hoewel dié truuk dalk onnodig sal wees as jy nie veel oor die blou regmerkies wat wys dat iemand jou boodskap gelees het omgee nie, is daar ander maniere om uit te vind of jou boodskap gelees is. As jy op ’n spesifieke boodskap binne WhatsApp klik en dan boaan op “info”, word uiteengesit presies hoe laat die boodskap ontvang is en hoe laat dit gelees is. Dit werk vir groepsgesprekke ook.
  • Hoe om ’n kortpad na ’n spesifieke gesprek te maak: As jy gereeld met dieselfde persoon gesels en te lui is om eers WhatsApp oop te maak, kan jy jul hele gesprek as ’n kortpad op jou foon se tuisblad plaas. Op die WhatsApp-blad waar al jou gesprekke gelys word, klik op die persoon se naam en ’n ekstra venster sal opkom. Kies die opsie “Add Conversation Shortcut” en die skakel gaan lê op jou tuisblad met die persoon se profielfoto as ikoon. Hierdie truuk is ongelukkig net vir Android-fone en kan ook vir groepsgesprekke gebruik word.
  • Verander die luitoon vir boodskappe van spesifieke mense: As jy weet jy sal dalk dadelik op ’n spesifieke persoon se boodskappe wil reageer, maar jy wil nie noodwendig vir elke boodskap na jou foon loer om te weet of dit die betrokke persoon is nie, is daar nou hulp. Hou bloot jou vinger op die betrokke persoon se naam, kies “View Contact” en dan onder “Notifications” gaan na “Custom Notifications”.
  • Beveilig al jou boodskappe: Jou foon word dalk gesteel of beland per ongeluk in die swembad. Oeps. Daar is jy nou al jou boodskappe kwyt! Keer dat so iets met jou gebeur deur rugsteunkopieë van al jou gesprekke te maak. iPhone-gebruikers het die opsie dat kopieë van jou boodskappe outomaties na iCloud gestuur word, terwyl Android-gebruikers dieselfde vir Google Drive kan doen. Gaan bloot na “Settings” en gaan maak die nodige verstellings onder “Chats and calls” en dan “Chat backup”. En die beste nuus is die volgende keer dat jy ’n nuwe foon kry en WhatsApp van voor af installeer, kan jy al jou gesprekke uit die Cloud gaan haal en net voortgesels.

Bronne: Daily Mail; Stuff.tv; TechRadar