Erfenisdag en die September-skoolvakansie is byna hier. Dis ’n tyd wanneer baie mense wegglip vir ’n lekker gesinsvakansie.

Faiza

Hou dié wenke in gedagte voor jy die langpad aandurf:

1.    Gaan jou voertuig na  

Dis altyd ’n goeie idee om jou voertuig te laat nagaan voor jy ’n lang rit onderneem. Laat diens jou voertuig as dit nodig is.

2.    Beplan jou roete

Maak seker jou roete is deeglik beplan. Laai jou GPS en tik jou bestemming in. As jy kaarte gebruik, moet hulle byderhand wees.

3.    Hou inspeksie

Hou die dag voor jy vertrek inspeksie. Kyk of al jou voertuig se ligte werk – die kopligte, remligte, agterligte en rigtingaanwysers. Gaan die windskerm vir krakies en kepe na en maak seker die ruitveërs is in ’n goeie toestand. Maak die watertenk vol, gaan die olie- en remvloeistofvlakke na en inspekteer die toestand van al die bande – ook daardie belangrike spaarwiel – en gereedskap.

4.    Onthou die tolhekke

Maak seker jy weet van die tolhekke op jou roete en hoeveel dit jou sal kos. As jy nie met ’n krediet- of debietkaart betaal nie, maak seker jy het genoeg kontant en die regte kleingeld sodat jy tyd by die hekke kan bespaar.

5.     Beplan jou rusplekke

Vind uit waar die vulstasies en rusplekke langs die pad is sodat jy kan beplan waar jy gaan stilhou. Dis belangrik om te beplan waar jy brandstof gaan ingooi, waar die kinders hul bene kan rek, waar jy verversings kan koop en waar jy ’n bietjie kan rus. Moegheid is een van die grootste redes van sterftes op die pad. Rus elke 200 km of minstens elke twee uur van bestuur. Moenie bestuur as jy moeg is nie.

6.    Gehoorsaam die wette

Wette verander nie net omdat jy vakansie hou nie. Dieselfde padreëls geld, soos om nugter te bestuur (geen drink en bestuur nie), altyd sitplekgordels te dra, die spoedgrens te gehoorsaam en altyd ’n veilige volgafstand te handhaaf.

7.     Dra altyd jou sitplekgordel

Selfs al ry jy ’n kort afstand af, en ongeag of jy voor of agter sit, dis noodsaaklik om jou sitplekgordel te dra. Dis nie net die wet nie, dit kan ook jou lewe red. Onthou ook, moenie terwyl die voertuig beweeg by die vensters uithang nie.

8.    Hou die kinders besig

Beplan vooraf hoe jy die kinders gaan besig hou. Sodoende sal die bestuurder se aandag nie afgetrek word nie.

9.    Doen jou navorsing

As jy buite Suid-Afrika se grense reis, maak voor jy ry seker jy het jou navorsing gedoen oor die plaaslike padreëls en vereistes vir voertuie en dokumentasie. Dit kan verskil van Suid-Afrikaanse regulasies, en jy wil nie in ’n vreemde land in die moeilikheid beland nie.

Faiza Mallick

Bron: Outomobiel-assosiasie van Suid-Afrika (AA)