Of dit nou ’n dierebyt is of kinders wat mekaar gebyt het, jy moet weet hoe ’n mens dadelik behandeling toepas. Volgens die kenners by Crisis on Call (www.crisisoncall.co.za) maak dit nie saak wie se tandmerke dit is nie, die basiese behandeling bly dieselfde. BYTE BEHANDELING: Hoe behandel ek ’n bytwond stap-vir-stap?

Almal wat deur iets gebyt is, moet deur ’n dokter ondersoek word weens die gevaar van ontsteking. Maar jy kan solank die volgende behandeling tuis gee.

  1. Kalmeer die persoon wat gebyt is.
  2. As die bytplek op die hande of vingers is, moet ringe verwyder word om ongemak te verminder wanneer dié deel begin swel.
  3. Was jou hande deeglik voor jy behandeling toepas. Trek handskoene aan.
  4. As daar bloeding is, pas ten minste 10 minute konstante druk met ’n skoon lap of steriele verband toe.
  5. Spoel die wond deeglik met water af om van die speeksel, sand en vuilgoed ontslae te raak.
  6. Was dan die wond versigtig maar deeglik met seepwater om die kans op ontsteking te beperk.
  7. Wend ’n antiseptiese oplossing of room aan.
  8. Moenie alkohol gebruik nie, want dit brand baie en help nie juis om die wond skoon te maak nie.
  9. Sit yspakke of ’n koue lap op die wond om die aanvanklike pyn en swelling te verlig. Ys mag nie direk op die vel gesit word nie. Sit dit eers in ’n plastieksak en draai dit dan in ’n handdoek toe om die vel te beskerm.
  10. Bedek met ’n los, steriele, maar nieklewende verband, soos Telfa, tot ’n roof vorm. Los daarna oop tot die wond heeltemal gesond is.
  11. Maak die wond daagliks skoon.

Wat is die tekens van ontsteking? Meestal sal ’n ontsteekte wond en die omliggende deel warm, rooi en geswel wees. Soms sal daar ook ’n afskeiding uit die wond kom. Infeksie veroorsaak ook koors, hoofpyn en geswelde kliere. Wat het ek in my noodhulpkissie nodig?

  • Handskoene
  • Antiseptiese oplossing of room.
  • Gaas of watte vir skoonmaak en wondbedekking.
  • Crêpe-verbande in alle groottes.