Vakansie-doendinge: Laat die kinders die pragtigste plakkate, rangskikkings, kaartjies en ander mooi goed van blomme en blare maak. MAAK BLAAR-PLAKKATE

Kinders maak 'n plakkaat met blare en sade

  • Pars blare en blomme in ’n telefoonboek of ander dik boek en plak dit later op die plakkaat vas met maskeerband. Versier met kryt.
  • Laat die kinders die blare wat hulle in die tuin sien, met gekleurde pastelkryte op ’n groot kartonplakkaat teken. Spuit die tekeninge agterna liggies met haarsproei om te sorg dat die kryt nie smeer nie.
  • Maak blaarafdrukke: Klamp ’n blaar op ’n stuk papier of koerant met ’n papierklem vas. Verf die bokant van die blaar met plakkaatverf. Sit die blaar dan met die geverfde kant na onder op jou kartonplakkaat neer en druk met jou hand vas om die afdruk te maak. Lig die blaar op en verf weer vir nog ’n afdruk of gooi dit weg en verf ’n ander blaar.
  • Laat jou kind ’n foto van haarself op ’n kleiner plakkaat plak en dan ’n raampie maak van blare, klippertjies, takkies en ander tuinvondste. (Dis ’n lekker geskenk vir ouma en oupa.)
Variasie  Pleks van die blare op ’n plakkaat te plak, kan julle dit in ’n portretraam agter glas rangskik. DROOG BLOMME

[caption id="attachment_63630" align="alignnone" width="533"]Gedroogde rooi rose in 'n mandjie Lady-bug via Compfight cc[/caption]

Blomme met dik blare word nooit heeltemal droog nie, kies dus liewer blomme met dunner blare soos rose, pinksterrose, laventel en heide. Sny die blomme vroeg in die oggend nadat die dou verdamp het en die blom oop is. Hou die stam so lank moontlik. Verwyder die meeste blare. Maak die blomme met ’n stuk tou in bossies vas en hou genoeg tou oor sodat jy ’n lus kan knoop om die bossies aan op te hang. Hang die bossies dan onderstebo op ’n droë, lugtige plek. Dit sal ’n paar maande duur voor dit heeltemal droog is. As dit droog is, kan julle die blomknoppe afknip. As julle ’n blomjoernaal het, plak dit daarin.

Wat om nog met gedroogde blomme te doen

  • Rangskik dit in ’n vaas.
  • Plak die knoppe op ’n kaartjie.
  • Versier tuisgemaakte items soos konfyt in ’n fles daarmee.
  • Maak ’n geurige potpourri.
MAAK BLOM-AFDRUKKE

1 Rangskik ’n klomp ou koerante op ’n werk­oppervlak.

2 Plaas dan ’n stuk skoon papier op die koerante en plaas ’n vars blom of blaar onderstebo daarop neer.

Illustrasie van blom op papier

3 Plaas nog ’n stuk papier of ’n stuk kleefplastiek bo-op die blom, en dan nog ’n laag koerantpapier.

Illustrasie blom tussen twee papiere

4  Laat jou kind die blom dan ’n paar keer lekker hard moker.

Illustrasie Koekroller op papier5 Lig die koerant en boonste stuk papier op, skraap die stukkies blom weg en daar op die onderste stuk papier pryk ’n prag­tige kunswerk wat nog net droog moet word.

Nog iets om met ’n blomafdruk te doen As julle die blom naby een hoek neersit, kan julle die stuk papier agterna in ’n mooi kaartjie vir iemand vou.

MAAK  ’N MAGRIETJIE Genoeg vir 4 blomme

Geel en pienk papierblommetjies

Julle het nodig

4 vierkante geel kreukelpapier (18 cm x 18 cm elk)

4 vierkante oranje kreukelpapier (18 cm x 18 cm elk)

4 vierkante rooi kreukelpapier (18 cm x 18 cm elk)

4 vierkante pienk kreukelpapier (18 cm x 18 cm elk)

8 wasgoedpennetjies

1 A4-vel aftrekpapier

skêr

4 stukke ligte wit karton (20 cm x 20 cm elk)

gomstiffie

4 houtstokkies of roomysstokkies

dubbelkant-kleefband

4 stewige blare uit die tuin

Maak so

1 Plaas die geel papiervierkante netjies op mekaar en steek met twee wasgoedpennetjies vas om in posisie te hou.

2 Doen dieselfde met die ander vierkante.

3 Teken ’n blomblaarpatroon soos op die foto links op die aftrekpapier.

4 Sit die patroon op die geel papierhopie en sny die blom uit. Sny deur al die lae.

5 Doen dieselfde met die ander kleure.

6 Smeer ’n bietjie gom in die middel van 1 van die wit kartonstukkies en plak een geel papierblom daarop vas.

7 Smeer ’n bietjie gom in die middel van die geel blom en plaas 1 rooi papierblom bo-op sodat die rooi blomblare sowat 1 cm regs van die geel blomblare is.

8 Doen dieselfde met die ander papierblomme tot jy al 4 kleure gebruik het.

9 Knip die kreukelpapierflenters in blokkies van 4 cm x 4 cm en rol in bolletjies. Plak dit in die middel van die blom vas. 10 Sny die voltooide magrietjie al om die buiterande uit. Sny die wit karton saam met die blom uit om dit stewig te hou. 11 Plak ’n houtstokkie (stingel) agterop die karton met dubbelkant-kleefband vas. 12 Plak die regte blaar op die stingel vas. 13 Doen dieselfde met die orige kreukelpapier. Plant die 4 blomme in ’n pot.

Wenke

  • Wissel die kleurvolgorde van die blomblare in die verskillende magrietjies af.
  • Magrietjies kan ook eenkleurig wees, soos geel met wit stuifmeel.
  • Moenie die steel opplak nie en skryf dan ’n boodskap agterop die wit karton – dit is ’n pragtige kaartjie.

Bron Huisgenoot Speel Somer 2012/13

Visuele leiding en stilering Tina-Marié Malherbe

Produksie Marianne Burke

Foto’s Peet Mocke

Modelle Georgia en Zoey van Infinity