Dikwels, indien nie meestal nie, kan dit voorkom word. Dit laat die vraag ontstaan waarom ons jeug steeds op die pad sterf.

Wat doen jong mense op die pad wat hul risiko vir ’n padongeluk vergroot? Die antwoord lê bloot by hul gedrag. Aggressiewe of gevaarlike bestuurgewoontes veroorsaak tot 80 persent van padongelukke. Houdings jeens dié soort bestuurstyl ontwikkel van ’n vroeë ouderdom af.

In hul grootwordjare kyk kinders dikwels hoe grootmense optree. Hoe kook pappa die pasta? Watter roete volg mamma skool toe? Dus is dit geen wonder nie dat hulle dalk ons slegte gewoontes ook naboots. Dit sluit swak padgewoontes in. Watter lesse leer jy vir jou kinders oor bestuur op die pad?

As die volwassene of ouer het jou gedrag ’n direkte uitwerking op die mense om jou, veral dié wat jonk en beïnvloedbaar is. Het jy al oorweeg wat jou kind dink wanneer hy agter in die motor sit en jy vloek op ’n taxibestuurder of jy jou middelvinger vir iemand wys?

Dieselfde geld vir die pa wat jaag om sy kinders by die skool te gaan oplaai of die ma wat op haar selfoon praat terwyl sy agter die stuur sit. Hierdie gedrag dra die boodskap aan passasiers en waarnemers oor dat dit aanvaarbaar is om die reëls te oortree.

Sulke gedrag het dalk ’n blywende uitwerking op jong, beïnvloedbare passasiers. Dit kan ook tot die kringloop van aggressie bydra waarin Suid-Afrikaanse padgebruikers hulle bevind.

Dit sal jou loon om jou gedrag in oënskou te neem wanneer jy weer agter die stuurwiel inskuif. Hier is agt eenvoudige stappe om jou aan die gang te kry:

Agt eenvoudige wenke vir padveiligheid:

  1. Gespe vas. Sorg dat dit die eerste ding is wat jy en jou passasiers doen sodra julle in die motor klim.
  2. Bly kalm. Irritasie en woede sal nie sake verbeter nie en net jou bloeddruk opjaag.
  3. Speel mooi. Vermy vuil taal en kru handgebare.
  4. Los die drank. Moet nooit drink en bestuur nie.
  5. Volg die reëls. Gehoorsaam altyd die padreëls, selfs al dink jy niemand kyk nie.
  6. Dink aan ander. Neem ander padgebruikers in ag. Voetgangers, fietsryers en ander voertuigbestuurders het ook die reg om daar te wees.
  7. Los die sel. Dit doen geen skade om iemand later terug te bel nie. Moet nooit ’n teksboodskap stuur terwyl jy bestuur nie.
  8. Gehoorsaam die spoedperk. Altyd!

Padveiligheid begin by jou. Die uitwerking van nalatigheid is verreikend. Ons almal moet ’n bewuste poging aanwend om onsself en ander op die pad te beskerm. Ons moet op ons padgewoontes let, want ons kinders en passasiers kan ons naboots.

Wanneer jy volgende keer bestuur, dink watter lesse jy wil oordra. Nou kan jy ’n beter voorbeeld begin stel.

- Faiza Mallick

Bron: AA