Help! Hoe hou ek my voete in n goeie toestand as ek heeldag  moet staan?

  • Raad: Ons sou almal gaande gewees het oor die luukse van ’n gereelde pedikuur, maar deur jou voete saans in warm water te week en ’n ryk room in te smeer sal al klaar keer dat die vel verhard.

Help! Ek het klein spatare op my enkels en voete begin kry – ek dink dis omdat ek amper nege uur per dag op my voeteis. Kan ek hiervan ontslae raak of dit minder opvallend laat lyk?

  • Raad: Begin deur spesiale kompressiekouse te dra. Dit sal die are help saamdruk en die bloed opwaarts in jou bene laat terugbeweeg. Verbeter ook die bloedsomloop in jou enkels en voete – smeer room of masseerolie in ’n sirkelbewegingrondom jou enkels. As jy saans met jou voete hoër as jou hart sit terwyl jy ontspan, sal dit ook met die bloedsomloop help. Jy kan ook laserterapie oorweeg as jy desperaat is – dit sal die spatare laat platval – maar dit kan moontlik terugkeer as jy weer jou voete afskeep.

Help! My voete is aan die einde van die dag baie moeg. Ek het nie tyd om hulle elke aand te vertroetel nie. Wat is ’n vinnige oplossing wat verligting vir moeë voete sal bring?

  • Raad: Week hulle in warm soutwater – jy sal verras wees oor hoe verkwik dit voel! Laventel is ook baie strelend, skaf dus laventelolie aan of pluk laventel uit die tuin, druk fyn met ’n stamper en vysel, meng in by akwaroom, voeg ’n tikkie pepermentolie en mentol by en smeer aan jou bene.

Help! Ek het my voete in die winter afgeskeep en sit nou met gebarste hakke. Ek het nie die geld om dit by ’n salon te laat behandel nie – wat is die beste tuisbehandeling en hoe lank sal dit duur voor ek weer sagte hakke het? Ek is skaam om my somersandale te dra!

  • Raad: Week jou voete in warm soutwater, skuur jou hakke met ’n goeie voetvyl, smeer ’n goeie hakroom ruimskoots aan en draai jou voete in kleefplastiek toe (oor die room), trek sokkies bo-oor aan en hou dit oornag so.