HELP! Hoe raak ek van eelte op my vingers ontslae?

  • RAAD: Laat gereeld ’n manikuur met afskilfering doen en laat ’n professionele persoon die eelte wegvyl. Jy kan ’n afskilfering ook tuis doen: Maak jou hande klam, skilfer dit met seesout af, en vryf dit dan in met ’n ryk room wat galambotter bevat. Vyl die eelte ook sagkens met ’n amarilvyl. Doen dié behandelings gereeld en jy sal sommer gou resultate sien.

HELP! My naels is baie bros en breek maklik. Is daar enigiets wat ek kan doen om dit te keer, of aanvullings wat ek kan drink om my naels sterker te maak? 

  • RAAD: Dit is dikwels weens ’n mineraaltekort, stres of ’n mediese toestand. Dit kan ook geneties wees. Probeer ’n aanvulling wat spesiaal geformuleer is met ekstra voedingstowwe vir sterker naels en hare. En behandel jou naels met ’n goeie versterkende produk. Dit help ook om naelvliesolie aan te smeer en dit in die naels te masseer.

HELP! Ek is in my veertigs en het sonvlekke op my hande – kan ek dit omkeer en hoe keer ek dat meer verskyn?

  • RAAD: Sonvlekke kan ligter gemaak word, maar dis noodsaaklik dat jy áltyd sonskerm dra, veral op jou hande en arms. Suurlemoen is ’n natuurlike middel wat die vel ligter maak: Wend dus die sap elke dag aan die bokant van die hande. Dermatoloë kan ook sonvlekke “afbrand” deur vloeibare stikstof te gebruik.                                                                     Die brandplekke vorm eers ’n roof, maar nadat dit gesond geword het, is die vlekke weg. Laserbehandeling is ook ’n uitstekende manier om die hande jonk te laat lyk, maar dit kan taamlik duur word. Vra jou dermatoloog wat vir jou die beste sal werk.


UIT HUISGENOOT MOOI, SOMER 2012