Die vinnige pas van die moderne lewe kan dit moeilik maak om ’n balans tussen die huwelik en jou gesinslewe te handhaaf.

Tog het ’n onlangse studie getoon getroude mense is minder gespanne as enkellopendes, geskeides of weduwees en wewenaars inkluis.

Navorsers by die Carnegie Mellon-universiteit het bevind getroudes se vlak van kortisol, die sogenaamde streshormoon, is laer as dié van mense wat nooit getrou het nie of wat voorheen getroud was.

Vir die studie is speekselmonsters van 572 gesonde volwassenes tussen die ouderdom van 21 en 55 jaar oor drie nie-opeenvolgende dae versamel. Verskeie monsters is in elke 24-uur-tydperk geneem en vir kortisol getoets.

Die resultate het getoon in die proeftydperk was die getroudes se kortisolvlak laer as by dié wat nooit getroud was nie of wat voorheen getroud was.

Hulle het ook elke mens se daaglikse kortisolritme vergelyk, aangesien die kortisolvlak teen opstaantyd op sy hoogste is en deur die dag afneem. By getroudes het dit vinniger afgeneem. Die afname is al verbind met ’n kleiner risiko vir hartsiektes en langer oorlewing by kankerpasiënte.

“Dit is opwindend om ’n fisiologiese pad te ontdek wat kan aandui hoe verhoudings jou gesondheid en siekte beïnvloed,” het die Ph.D.-student Bian Chin opgemerk. Hy het bygevoeg die bevindings steun die beskouing dat ongetroudes meer emosionele spanning ervaar as getroudes.

Voortdurende spanning word verbind met hoë kortisolvlakke, wat maak dat die liggaam nie inflammasie goed kan reguleer nie. Dit bevorder weer die ontwikkeling en vordering van baie siektes.

“Hierdie data bied belangrike insigte in die manier waarop ons intieme sosiale verhoudings ons gesondheid beïnvloed,” is die mening van Sheldon Cohen, laboratoriumdirekteur en medeskrywer.

Die volledige artikel is in die tydskrif Psychoneuroendocrinology gepubliseer.

© Cover Media