[caption id="attachment_86336" align="aligncenter" width="600"]As jy nie versigtig is nie, kan die internet ’n gevaarlike plek wees. As jy nie versigtig is nie, kan die internet ’n gevaarlike plek wees.[/caption]

Die situasie in SA:

’n Peiling deur Mariska de Lange van die Nelson Mandela Metropolitaanse universiteit (NMMU) het bevind 40 persent van skoolkinders wat deelgeneem het, het al in die regte lewe iemand ontmoet met wie hulle nog net aanlyn gesels het.

Dertig persent van hulle het ook gesê die persoon wat hulle ontmoet het, was nie wie hulle gedink het hulle sou wees nie.

So wie is hulle? Wel, hulle is kuber-roofdiere – ouer mans wat voorgee om tienerseuns te wees wat jong meisies probeer verlei.

Hulle teiken gewoonlik meisies met ’n lae selfbeeld, wat gewoonlik oorgewig is en uit gebroke families kom. Hulle laat die meisies spesiaal en bemin voel en teen die tyd dat hulle hul ware ouderdom gee, is die slagoffers so verlief dat hulle nie gepla is met die ouderdomsverskil nie.

Só weet jy as ’n kuber-roofdier jou pel teiken:

  • Jou vriendin kyk nooit na haar internet-boodskappe voor jou of ander mense nie.
  • Sy lyk skrikkerig wanneer sy ’n boodskap kry.
  • Sy raak teruggetrokke en geheimsinnig.

So kan jy help:

In sommige gevalle is jou vriendin dalk so verlief op die kuber-roofdier dat praat nie sal help nie, sê professor Rossouw von Solms, ’n  kenner in kuberveiligheid van NMMU.

“Die beste is om jou vriendin se ouers daarvan te vertel,” sê hy. “Jou vriendin gaan dalk kwaad wees vir jou, maar dis die moeite werd as dit haar beskerm teen iemand wat gevaarlik is.”

Andersins kan jy ’n volwassene wat jy vertrou, soos jou skool se berader of ‘n

lewensoriënteringonderwyser, daarvan vertel.

Bly so veilig op internet

  • Moenie vir iemand iets op die internet vertel wat jy nie vir ’n vreemdeling op straat sou vertel nie.

“Dis my nommer een reël vir kinders,” sê Rossouw. “As jy nie die persoon in die ‘regte wêreld’ ken nie, moenie vir hulle enigiets persoonliks vertel nie.”

  • Moenie te veel persoonlike inligting uitgee nie.

Enigeen weet jy moenie jou volle naam, adres of telefoon nommer op die internet uitlap nie, maar dieselfde geld vir waar jy skoolgaan, jou gunsteling-uithangplekke op ’n Vrydagaand of waar jy ná skool netbal of rugby oefen.

“Die ouens is goed daarin om inligting oor jou te versamel,” sê Rossouw. “En moenie staatmaak op die webtuiste se privaatheidinstellings nie. Dis maklik om te omseil.”

  • Verbreek alle kontak die oomblik as jy bedreig of ongemaklik voel.

En moet dit nie vir jouself hou nie – vertel ’n volwassene wat jy vertrou.

  • Doen jou navorsing.

Doen speurwerk voor jy iemand in die regte wêreld ontmoet. Ken jou vriende die persoon? Doen ’n Google-soektog op hul naam of kyk of jy sy of haar foto’s deur Google images opspoor.

  • Wees versigting wat jy skryf.

Voor jy iets aanlyn kwytraak, vra eers jouself af: “Sou ek wou hê my ma moes dit lees?” Jou ma is dalk nie op Facebook of Twitter nie, maar baie universiteite en potensiële werkgewers is wel. As jy eendag aansoek doen om universiteit te gaan of vir daai droomwerk, kan daai onvanpaste aanmerking jou dalk duur te staan kom.

  • Dieselfde geld vir foto’s.

Moenie ’n foto van jouself oplaai wat jou ma nie in die sitkamer sou wou ophang nie. Wat jy op die internet plaas, is vir altyd daar.

Die organisasies kan help:

  • Rape Wise – 011 421 3284 of hul 24-uur blitslyn 083-943-0173
  • Childline – 0800 055 555
  • SA Depressie- en Angsgroep – 0800 21 22 23
  • Suid-Afrikaanse Polisie – 10111 or 08600 10111

Wat sê die wet?

  • Seksuele toenadering van kinders (enigeen onder 16) is onwettig.
  • Die vervaardiging of verspreiding van kinderpornografie is onwettig.
  • In Suid-Afrika is die ouderdom van seksuele toestemming 16 – as enigeen ouer as 16 seks het met iemand jonger as 16, selfs met hul toestemming, is dit verkragting.
  • Bekruiping, in die regte lewe of in die kuberruim, is onwettig.

-        Petro-Anne Vlok

EKSTRA BRONNE: justice.gov.za; nmmu.ac.za; news.cnet.com; ftc.gov