Stel dié eenvoudige wenke op die proef en wees op jou gelukkigste.

-         Kweek optimisme

Skep jou eie geluk. Net jy kan jou opbeur wanneer jy ongelukkig voel. Leer slegte denke herken en besluit of jy regtig so wil voel.

Wenk: Plak gelukkige foto’s in jou kamer en studeerplek op, waar jy kan nadink oor wie en wat jou gelukkig gemaak het.

-         Vind uit wat jou gelukkig maak

Ons almal verskil; dankie tog! Verbeel jou net hoe vervelig die lewe sou gewees het as almal dieselfde belangstellings gehad het. Leer ken jouself, vind uit wat jy graag doen en doen dit. Doen wat jou gelukkig maak, óf dit draf soggens is óf vrywillige werk by die dierevereniging of koek bak. Stel doelwitte en moenie bang wees om te droom nie.

-         Maak asof jy kan

Onthou, dade lei tot gevoelens. Glimlag wanneer jy neerslagtig voel en kyk hoe gou wyk daardie donker wolk wat oor jou kop hang.

-         Belê in jou geliefdes

Omring jouself met opgeruimde mense as jy gelukkig wil bly. Die teenoorgestelde geld vir swartgallige mense: Vermy hulle! Bring tyd deur saam met mense wat die beste in jou uitbring en jou die ruimte gee sodat jy jouself kan wees. Vertel die mense naby aan jou hoe baie jy hulle waardeer.

-         Skud slegte goed af

Dit lyk soms vir ons almal asof alles skeefloop, en soms duur dit langer as wat jy kan verduur. Onthou, jy is in beheer van jou eie geluk. As jy neerslagtig voel, verander jou roetine. Gaan stap om die blok, pluk ’n bossie blomme vir jou ma, maak ’n toebroodjie vir ’n hawelose of maak jou kamer aan die kant. Jy sal verbaas wees hoe goed dit jou laat voel wanneer jy ander mense help.

- Megan Bursey

Ekstra bronne: RealSimple.com, mayoclinic.com