[caption id="attachment_113795" align="alignnone" width="600"]Foto: Pixabay Foto: Pixabay[/caption]

Nuwejaarsdag beloof ’n vars begin, ’n kans om nuut te begin en ten beste te verander. Maar ’n paar maande later verkrummel die besluite en die ou gewoontes keer terug. Die geheim om suksesvol by jou besluite te bly is om hulle beheerbaar en realisties te hou.

“Navorsing het getoon dat sowat 88 persent van Nuwejaarsvoornemens misluk – nogal ’n taamlik treurige suksessyfer,” sê Robyn Farrell, uitvoerende hoof van 1st for Women-versekering. “As jy jouself in die komende jaar wil verbeter, is dit belangrik om ’n strategie te volg. Moenie net ’n vae idee noem nie; beraam haalbare planne om jou finale doelwit te bereik.”

Die geheim om suksesvol by jou besluite te bly is om hulle beheerbaar en realisties te hou.

Robyn skets ’n paar van die belangrikste aspekte waaraan vroue moontlik wil werk en gee raad oor die strategieë wat jy kan volg om sukses te behaal.

Geldsake

Alle Suid-Afrikaners sal weer in 2016 die gordel stywer moet trek. Met elektrisiteit wat duurder raak, kospryse wat waarskynlik gaan styg, rentekoerse wat styg, en selfs die brandstofprys wat opwaarts kruip, besluit die meeste Suid-Afrikaners moontlik om minder uit te gee, meer te spaar en skuld te verminder.

“Omdat geld getel kan word, is dit maklik om doelwitte in beheerbare mylpale af te breek,” sê Robyn.

“Dit is die beste om kredietverlening eerste te takel, want meer rente word op skuld gehef as wat jy op spaargeld kan verdien. Beplan dus om elke maand ekstra geld in elke kredietrekening te betaal tot hulle op datum is – en, wanneer jy dit bereik het, moenie nog skuld aangaan nie.”

Sy raai jou ook aan om aan die begin van elke maand ’n deel van jou inkomste vir jou aftrede te spaar, en daarna vir die kort- en mediumtermyn-doelwitte wat jy vir jouself bepaal het.

Eet reg vir jou omstandighede

Onlangse navorsing het onthul wat jy moontlik in elk geval weet: dat verskillende diëte verskillende mense op verskillende maniere raak.

Aangesien ons nie almal aan akademiese navorsing kan deelneem oor hoe ons op tamaties gaan reageer nie, is dit ’n goeie plan om na jou eie liggaam te luister, of, indien nodig, professionele hulp te soek om vas te stel watter eetplan die beste vir jou is.

“As jy weet jou dieet is op die verkeerde pad, weet jy heel moontlik wat jy moet doen om dit te verander,” sê Robyn. “Of jy nou suiker of vetterige kos wil uitskakel of meer vars vrugte en groente wil eet, jou kanse op sukses is groter as jy jou maaltye van die begin af tuis kook, eerder as om voor ’n versoeking te swig wanneer jy haastig is.”

Sy verduidelik om dit reg aan te pak, moet jy vooruitbeplan: Maak lysies, doen oor die naweek inkopies en kook dan ’n paar middag- en aandetes vooraf. Sy gee ook advies oor ’n klompie gesonde kitshappies, soos neute, wortels, skywe komkommer en kaas, om in jou handsak te sit vir wanneer die honger toeslaan.

Word fiks en gesond

Ons weet almal ons behoort te oefen. Dit is goed vir liggaam en gees, maar party mense beskou dit eenvoudig as ’n nagmerrie om in die gimnasium te gaan fietsry en gewigstoot; daarom is dit belangrik dat jy iets vind waarvan jy hou en nie elke moontlike verskoning aangryp om dit nie te doen nie.

“Om tyd in te ruim vir iets wat jy verafsku, is doelloos en teenproduktief,” sê Robyn. “Dink aan die dinge wat jy geniet en probeer ’n maat vind wat dit gereeld saam met jou kan doen.”

Ruim tyd in vir jouself

1st for Women het vroeër vanjaar die “Ek weet nie hoe sy dit regkry nie”-ondersoek begin en dit het aan die lig gebring dat 23 persent van Suid-Afrikaanse vroue hoegenaamd geen ek-tyd het nie. Die resultaat is verstaanbaar maar verstommend as jy die eise in ag neem wat werk, verhoudings, die huishouding en kinders grootmaak stel en wat vroue moet balanseer.

Onthou om jouself op die rug te klop vir alles wat jy elke maand bereik

“Jyself is ongelukkig die enigste mens wat jou ’n blaaskans gaan gee,” sê Robyn. “Neem aan die begin van die jaar jou almanak en skeduleer tyd vir wat ook al jou siel voed – ’n naweekwegbreek, middagete saam met vriende, ’n dag by die spa of ’n namiddag wat jy langs die rivier gaan sit en lees!”

Bring meer tyd saam met jou kinders deur

As jy ’n ma is, is die kanse goed dat jy soms voel jy gee nie genoeg aandag aan jou kinders nie. Jy kan drie dinge doen om hierdie situasie te verbeter, sê Robyn.

Lees ook: SA vroue wens vir meer tyd saam metgeselle, kinders en hulself wys peiling

“Gee jouself in die eerste plek ’n ruskans. Ons doen almal ons uiterste bes met die hulpmiddels wat ons het. Maak dan seker jy is werklik “daar” wanneer jy tyd saam met jou kinders deurbring. Fokus op gehalte eerder as hoeveelheid, en beperk onderbrekings, veral as hulle elektronies van aard is.

Laastens moet jy op jou omgewing steun: Moedig vriende en familielede aan om tyd saam met jou kinders deur te bring en so hul versorgings- en beïnvloedingsbasis te verbreed en die eise te verlig wat aan jou gestel word.”

Die heel belangrikste voorneme

Dit is nou wel goed om ambisieus te voel oor die verbetering van jou lewe en lewenstyl, maar dit is ook belangrik om jouself met liefde en goedheid te behandel.

“Dit kan nou wel ’n cliché wees, maar dit is belangrik dat jy jouself liefhet oor wie jy is. As jou voornemens jou van jou rus beroof en jou slegter laat voel oor jouself, is die belangrikste ding wat jy kan doen om te fokus op wat jou uniek maak. En, soos met al die ander voornemens, moet jy heeljaar daaraan werk.

En onthou om jouself op die rug te klop vir alles wat jy elke maand bereik het,” sê Robyn.