Jy het dit al vantevore gehoor: Moenie swig onder groepsdruk nie, sê net nee, bla bla bla. Maar voor jy verveeld raak en omblaai, dink ’n bietjie hieroor: Voel jy jou hare moet op ’n sekere manier gekam word omdat al die kinders by die skool so lyk? En wat van wanneer jy uitgaan? Moet jy eenvoudig Kim K se rokerige ooggrimering naboots?

Die idee dat jy soos die ander ouens of meisies in jou vriendekring moet lyk, optree en aantrek – of soos ’n glanspersoon – is ook ’n soort groepsdruk.

Hoe die wêreld sê jy moet lyk – en hoekom jy nie hoef te luister nie

  •  Hollywood-haredos: Dis die kenmerkende voorkoms op die rooi tapyt – hare vasgemaak in perfekte krulle of reguit gestryk. Maar oormatige hitte, kleurbehandelings en om hare reguit te maak kan dit erg beskadig en jou op 30 soos ’n voëlverskrikker laat lyk. Hoekom nie die natuurlike roete volg nie? Jy sal verbaas wees hoeveel komplimente jy kry.
  •  Panda-oë: Jy dink dalk jy beklemtoon jou oë met die klomp oogomlyner, ewe nes die Kardashian-sussies, maar jy kan dit eintlik kleiner laat lyk. Kim, Kourtney en Khloé het ’n beroepsgrimeerkunstenaar tot hul beskikking en dra ook gedurig vals wimpers. Die smeulende voorkoms is nie maklik om self te doen nie – die kanse is goed dat jy gaan lyk of jy ’n opstopper gekry het. Probeer die natuurlike voorkoms, met net ’n tikkie maskara.
  •  Daardie gaping: Daar was vroeër vanjaar ’n Facebook-aanhangersblad toegewy aan “die gaping” tussen ’n meisie se bobene. Nee, ons praat nie van iets vreemds nie – dit verwys na die spasie tussen baie maer meisies se bene omdat hul bobene nie teen mekaar skuur nie. Volgens die blad “het alle meisies die gaping”.
  • Wel, dis glad nie die geval nie. En jy hoef dit ook nie te hê nie. Die meeste meisies is nie soos die model Cara Delevingne gebou nie, en hou darem af en toe van ’n tjokkie. Dis belaglik om ure in die gim deur te bring op ’n leë maag om daardie spasie te kry. As jy die regte oefening doen, sal jy jou beenspiere ontwikkel en dis nogal koel, want meer spiere beteken jy verbrand meer kilojoules terwyl jy rus. Nog ’n bietjie roomys, asseblief!
  • “Niks proe so lekker soos maer wees voel nie.” Jy het waarskynlik al dié een iewers gehoor of raakgelees. Dis glo iets wat Kate Moss kwytgeraak het. Wel, Kate het duidelik nog nooit ’n rooifluweel-kolwyntjie geproe nie. Om jou uit te honger vir ’n piepklein middeltjie is ’n vermorsing van tyd, want hoe minder jy eet, hoe stadiger is jou metabolisme. En dit beteken wanneer jy wel iets eet – al is dit gesond – gaan jou liggaam dat as vet stoor. Hou eerder by ’n paar klein, gesonde etes per dag (en af en toe natuurlik die rooifluweel-kolwyntjie!). Jou liggaam sal jou ewig dankbaar wees.

Ouens loop ook deur

Dis nie net meisies wat onder druk is om ’n sekere voorkoms te hê nie. Jy ken waarskynlik ’n paar ouens wat behep is met spiere bou sodat hulle goed kan lyk in ’n frokkie. Hulle gebruik dalk selfs aanvullings of steroïde vir ekstra spiere. Maar die produkte kan ernstige newe-effekte hê, soos haarverlies, aknee, lewersiekte, nier- en hartprobleme, testikulêre skade . . . noem maar op. Bou eerder spiere op die gesonde manier – wees aktief en neem deel aan sport.

Dié sterre volg hul eie kop

  • Die aktrise Jennifer Lawrence: “In Hollywood is ek swaarlywig. Ek word as ’n vet aktrise beskou. Ek sal die enigste aktrise wees oor wie daar nie gerugte van anoreksie rondloop nie. Ek sal my nooit vir ’n rol uithonger nie.”
  • Die sangeres Hayley Williams: “Die malste ding wat ek nog vir ’n ou gedoen het, was om my persoonlikheid en styl te onderdruk sodat ek minder ‘vreemd’ voorkom. As ek nou terugdink, besef ek dat ek nooit sal verander wie ek is nie, vir niemand nie. Veral nie vir een vlietende oomblik van aanvaarding nie.”
  • Die sangeres Pink: “Ek hou daarvan om my eie hare te doen. Ek sou graag vir een dag Victoria Beckham wou wees, om so goed te lyk, maar ek kan nie.”

Bronne: dailymail.co.uk, telegraph.co.uk, seventeen.com