Deskundiges aan die Michigan-staatshospitaal het twee studies van stapel gestuur. Een het byna 300 000 mense betrek wat tussen 15 en 99 jaar oud is en uit meer as 90 lande kom.

In die studie is bevind dat diegene wat meer waarde geheg het aan hul vriendskappe, aangedui het dat hulle gesonder en gelukkiger is, selfs meer so hoe ouer hulle geword het. 

Die navorsers het in die tweede studie gefokus op die resultate van ’n studie wat meer as 7 000 mense van 50 jaar en ouer in Amerika betrek het. Deelnemers is uitgevra oor die hegtheid van hul vriendskappe, byvoorbeeld oor hoe goed hul vriende hulle verstaan. Mense is ook gevra of hulle saamstem met die stelling: “My lewe is feitlik ideaal.”

Deelnemers is oor die volgende ses jaar opgevolg en vir siektes soos kanker, hartsiekte of diabetes ondersoek. Dié wat hul vriendskappe as “gespanne” beskryf het, was meer geneig om aan die siektes te ly, terwyl mense met ondersteunende vriende oor die algemeen gesonder was.

Toe dit egter kom by die mate waarin familie die deelnemers se gesondheid en welsyn beïnvloed, was daar min invloed, behalwe van kinders en gades, en hulle het ’n geringe impak gehad, maar nie naastenby soveel soos vriende nie.

“Vriende is ’n bewuste keuse. Familieverhoudings kan ernstig, negatief en vervelig wees,” het William Chopik, medeprofessor van sielkunde en skrywer van die studiestuk, gesê.

“Jy gaan waarskynlik meer dikwels saam met vriende aan bedrywighede deelneem – hulle verskaf ’n uitlaatklep. Jy kan dinge aan vriende vertel en hulle oordeel nie so vinnig nie. Daar is ’n afstand wat ’n vlak van eerlikheid verskaf.”

Navorsers het ook ’n oorsig bekendgestel van byna 150 studies waarby meer as 308 000 mense aangetoon het dat hegte sosiale verhoudings ’n mens se kans op oorlewing oor die studietydperk met 50 persent verhoog het. Die kenners het opgemerk dat hierdie verstommende resultate soortgelyk is aan die voordele van ophou rook.

William beklemtoon dat mense moet seker maak die vriendskappe bly heg, selfs nadat hulle met iemand begin saambly en kinders gehad het. Hulle waarsku dat die getalle dikwels in hierdie tye afneem van vyf of ses intieme vriende tot slegs twee of drie.