Tog is dit ’n onomwonde feit dat baie van die lewenslesse wat ons vandag met ons saamdra van ons ouers afkomstig is.

So vertel een van Huisgenoot se joernaliste, Marelize, haar pa het altyd gesê "mens moenie met jou kinders, gesondheid of kar brag nie; hulle kan jou net te maklik in die steek laat."

Pieter, ook ’n joernalis, vertel weer sy ma-hulle se raad van kleintyd was om te gee, "want met ’n toe hand kan jy nie ontvang nie."

Ook: "Vergewe maklik, want bitterheid maak jou siek."

Op haar beurt vertel Mieke sy het as skoolkind graag aan sport deelgeneem. "My ma, wat my altyd na oefeninge moes rondry, het my van kleins af geleer dat mens ongelukkig nie net kan opdaag en moeite doen op die dae wat jy lus is daarvoor nie.

"Jy gaan dae hê wat jy moeg is, nie lus is of lui is, maar jy moet op dié dae ook opdaag."

Mieke sê dit het haar geleer dat jy nooit vooruitgang gaan maak as jy nie op jou slegte dae ook perform nie. "Ek pas dit vandag nog toe."

Huisgenoot se digitale span se raad van hul ouers sluit in Annami se ma wat altyd gesê het: "Doen alles wat jy doen die beste - as jy ’n straatveër wil word, is dit oukei, solank jy die beste straatveër is."

Terwyl Annelene weer geleer het om "nooit vir familie of vriende geld te leen of met hulle oor geloof of politiek te praat nie."

Maar vertel ons, watter lewenslesse het jy by jóú ouers geleer? Laat weet asseblief vir

Marelize Potgieter by marelize.potgieter@huisgenoot.com.