TOE Susan (15) hoor haar ouers gaan skei, was sy eers geskok en toe hartseer. “Dit was die moeilikste ding wat ek nog moes deurmaak,” sê sy.

“Ek onthou ek het vir almal by die skool vertel ek is opgewonde daaroor dat ek twee huise gaan hê.

“Maar toe die werklikheid van dié reëling my tref, het ek ’n ruk lank daarmee gesukkel. Dit het gevoel of dit my skuld is dat hulle skei.”

Dit is normaal om verward of skuldig te voel as jy slegte nuus soos ’n egskeiding moet verwerk, sê Yvonne Rafaraci, ’n egskeidingsberader. “Baie tieners probeer sin maak daarvan – en dink dikwels dit is deels hul skuld.”

As jy boonop hartseer voel, is dit heel normaal en verstaanbaar. “Hoe meer jy teen die hartseer stry, hoe langer kan jy so voel,” sê Louise Shepherd, ’n kliniese sielkundige. Maar die teenoorgestelde is ook waar: Jy hoef nie heeltyd hartseer te voel nie. “Jy kan maklik in die strik trap om jouself en jou gevoelens as goed of sleg te beoordeel, maar hierdie emosies is normaal,” sê sy. “Ons almal ervaar dit af en toe.” Maar wat doen jy as jy hoor jou ouers gaan skei en jou emosies gaan op hol? Hou dinge normaal

Jou gesin gaan deur ’n paar veranderinge gaan – en van dit sal buite jou beheer wees. Daarom is dit belangrik dat jy jou roetine so normaal moontlik hou. Louise stel voor jy sê kalm vir jou pa en ma hoe hulle jou in hierdie tyd kan ondersteun. “In die middel van ’n egskeiding kan hulle vergeet hoe moeilik dit ook vir jou is. Daarom moet jy hulle herinner aan wat jy nodig het,” sê sy. “Sê vir hulle wat jy graag wil hê moet gebeur, byvoorbeeld: ‘Ek wil hê julle moet al twee by my tennisafrigting betrokke bly’.” Hou vol met jou gewone aktiwiteite, soos sport en kuier saam met vriende. Dit sal jou afstand gee van wat by die huis aangaan en tyd gee om asem te skep. “As jy jou buitemuurse aktiwiteite afskeep, kan dit jou afgesonder laat voel en te veel tyd laat vir negatiewe gedagtes,” sê Yvonne. Bly neutraal

Tieners kan maklik in die skeiproses en daarna by hul ouers se rusies betrek word. Maar gelukkig is daar maniere om sulke situasies te vermy. “As jy meer woede teenoor een ouer ervaar, kan dit jou help as jy die ander ouer vra om nie die woede aan te blaas nie,” sê Louise. “Jy verdien die kans om aan jou verhouding met elke ouer te werk sonder dat die ander een se gevoelens jou besluite beïnvloed.” As jou ouers jou by hul bakleiery betrek, stel voor dat hulle hul probleme met ’n ander volwassene, soos een van hul vriende, bespreek. Sê vir hulle dit ontstel jou om besonderhede van hul rusies te hoor en dit kan ’n uitwerking hê op hoe jy oor hulle voel, sê Louise. Die blink kant

Dit kom dalk as ’n verrassing, maar jy besef dalk later ’n egskeiding kan ook positiewe gevolge hê.

Nadat haar ouers geskei is, het Mikayla (16) besef haar gesinslewe is nie net rustiger nie, sy geniet ook die voordele van twee blyplekke. “Dis soms ’n goeie ding dat ek by ’n ander huis kan gaan bly, veral as ek ’n blaaskans van een van my ouers of van ’n broer of suster wil hê,” sê sy.

Jy leer dalk ook in die proses dat jy anders oor dinge dink as jou ouers, en kom agter wat regtig vir jou belangrik is. “Die ervaring kan jou leer hoe jy eendag in jou eie verhoudings wil optree en nie wil optree nie,” sê Yvonne.

“Dit kan jou leer hoe jy sekere situasies kan aanvaar en moeilike tye kan baasraak, iets wat almal moet deurmaak, ook in die volwasse lewe.” Maar as jy wil leer om gelukkig te wees, stel Louise voor dat jy jouself nie dwing om altyd die positiewe raak te sien nie. Laat jouself eerder oop vir sulke gevoelens en gedagtes. “Die aanvaarding maak dit vir jou moontlik om ’n spesiale, nuwe verhouding met elke ouer te ontwikkel en julle nader aan mekaar te bring,” verduidelik sy. “Daar sal waarskynlik rowwe tye wees, maar dis nie onmoontlik dat jou verhouding met albei ouers kan verbeter as jy met elkeen afsonderlik meer tyd deurbring nie.” Met wie jy kan praat

Al is jy ook hoe bekommerd oor jou ma en pa, kan jy nie van jou eie gevoelens vergeet nie. Yvonne stel voor jy kry hulp van iemand buite jou gesin wat objektief is. “Onthou, ’n egskeiding kan vir jou ma en pa so traumaties wees dat hulle in dié tyd net nie weet hoe hulle jou kan help nie. Dit beteken jou gevoelens kan afgeskeep word,” sê sy.

As jy erg terneergedruk voel, moet jy veral seker maak jy kry hulp.

Jy kan met ’n familievriend, buurvrou, onderwyser of professionele sielkundige praat. As julle een het, kan jy jou skoolberader besoek of vra dat ’n onderwyser jou na een verwys – die diens is gratis en streng vertroulik. Of vra hulp by Famsa, die gesins-en-huweliksvereniging van Suid-Afrika: Gaan na hul webtuiste by www.famsa.org.za of bel hulle by 021-447-0170 (Kaapstad), 011-788-4784 (Johannesburg) of 031-202-8987 (Durban).

Die heel belangrikste is om te onthou: Jy is nie alleen nie en dit is nie ’n skande om iemand te vertel hoe jy voel nie.

Wanneer Pa of Ma nuwe liefde vind

Het een van jou ouers iemand anders ontmoet? Die kenners Louise Shepherd en Yvonne Rafaraci sê hoe jy die situasie kan hanteer:

  • Jy hoef nie dadelik van die nuwe liefde te hou nie! Gee jouself kans, maar doen moeite om altyd beleefd te wees.
  • Wees eerlik en sê op ’n ordentlike manier vir jou ouers wat jou behoeftes is.
  • Jou ma en pa sal jou veel eerder ernstig opneem as jy jou gevoelens kalm met hulle bespreek pleks van skree en hulle die skuld gee vir alles.
  • Onthou, niemand sal ooit jou ander ouer vervang nie, al voel jy dalk dit is wat gebeur.