Dis Februarie, die liefdesmaand. War kom dit vandaan? Daar is verskeie legendes oor die oorsprong van Valentynsdag en almal behels dat jy jou liefde met ’n opoffering toon. In ons gejaagde lewe vier ons Valentynsdag met liefdesbetuiginge soos blomme, kaartjies en sjokolade. Al is dié geskenke baie besonders, kan hulle onpersoonlik wees. Met hierdie maklike versierings vir Valentynsdag kan jy ’n romantiese atmosfeer vir jou en jou geliefde skep.

Harte

[caption id="attachment_66843" align="aligncenter" width="600"]Harte Foto’s uit: weylandts.co.za, mrphome.com en etsy.com[/caption] Harte is die bekendste simbole van die liefde. Tog is daar ook ’n klompie ander simbole wat gewoonlik met Valentynsdag gebruik word as uitbeelding van die liefde, soos duiwe en Cupido-figuurtjies. Plaaslike interieurwinkels verkoop pragtige ornamente met ’n natuurlike en metaal-afwerking. Jy kan ook jou eie harte maak deur klippe te verf, ’n hart uit kurk te sny of ’n hartvormige muurbehangsel van takke te maak.

Muurkuns

[caption id="attachment_66851" align="aligncenter" width="600"]Muurkuns Foto’s uit: weylandts.co.za; weylandts.co.za, hometalk.com en architectureartdesigns.com [/caption]

Nog ’n tradisie op Valentynsdag is dat jy jou liefde in woorde uitdruk. Muurkuns is ideaal hiervoor. Jy kan liefdesboodskappe met kryt skryf aan borde of mure wat geverf is met swartbordverf of ’n gedrukte gedig swierig raam.

Strooikussings

[caption id="attachment_66856" align="aligncenter" width="600"]Foto’s uit: etsy.com, livingafrugallife.com, en weylandts.co.za Foto’s uit: etsy.com, livingafrugallife.com, en weylandts.co.za[/caption]

Strooikussings verskaf warmte en gemak en kan ’n neutrale ruimte ophelder. Vir Valentynsdag kan jy na strooikussings soek met liefdeswoorde daarop of ’n boodskap wat verband hou met jul verhouding. Maak tydelike versierings deur veltharte op eenvoudige kussings vas te werk of te plak. As jy ’n neutrale tema verkies, kan jy metaalkleure soos silwer en goud gebruik, pleks van die tradisionele rooi en pienk van Valentynsdag.

Houers en vase

[caption id="attachment_66857" align="aligncenter" width="600"]Houers en vase Foto’s uit: farriers.co.za, mrphome.com, etsy.com, triciatricia81.polyvore.com en thevintagemodernwife.com[/caption]

Keramiek- of glasvase is ’n bedagsame keuse as jy blomme as ’n geskenk wil gee. Kies vase in tradisionele kleure soos pink, rooi en wit. Rooi hou tradisioneel verband met sterk emosies soos hartstog en liefde, en is die volmaakte kleur vir Valentynsbinneversiering. Wit is ook ’n goeie kleur, aangesien dit reinheid en goedheid simboliseer. ’n Sagter kleur soos pienk simboliseer romanse, liefde en vroulikheid. Jy kan ook ’n patroon of persoonlike boodskap verf op flesse van herwonne glas. Gebruik hartvormige bakke en glashouers vir lekkers en sjokolade.

Papier

[caption id="attachment_66859" align="aligncenter" width="600"]Foto’s uit: etsy.com en simplesmentebranco.com en taylordeventssv.com Foto’s uit: etsy.com en simplesmentebranco.com en taylordeventssv.com[/caption]

Jy kan papier gebruik vir goedkoop, tydelike uitstallings. Maak stringe vlaggies met die bladsye uit ’n ou digbundel of sny woorde en harte uit Post-it-papiertjies. Sny foto’s uit waarop julle gelukkig bymekaar is en hang dit in stringe teen die dak. Onthou om nog foto’s te neem vir jul volgende Valentynsviering. Gelukkige Valentynsdag!

Deur Janel Nell van Interior Creators