1. Moenie jou vrou se probleme probeer oplos nie.

Glo dit of nie, maar wanneer jou vrou jou van ’n probleem vertel, wil sy nie hoor wat jou oplossing is nie. Sy wil net hê jy moet na haar luister. Dit word empatie genoem en dis vir die meeste mans heeltemal onlogies. Die idee druis teen my kernoortuigings in – probleme is sekerlik bedoel om opgelos te word. Dis hoekom raad gee tot botsings met jou vrou kan lei. Onthou dus: As jy ’n probleem wil oplos, blaai eerder na die bladsy met sudoku.

2. Niks maak jou vrou kwater as dat sy besiger as jy is nie.

Laat ek verduidelik: As jou vrou besig is, is die laaste ding wat sy wil sien dat jy op jou vet agterent lê en niks doen. Sy haat dit!

Jy mag net ’n blaaskans neem en op die rusbank ontspan as jou vrou nie rondhol nie. Hou ook ingedagte dat, ongeag hoe besig jou vrou is, sy altyd tyd het om te kom kyk waarmee jy jou besig hou. Gelukkig is die boek Learner Husband propvol idees oor hoe om te maak of jy besig is terwyl jy eintlik dagdroom.

3. Neem aan jy is verkeerd voor jy dink jy is reg.

Dit is die leerlingman se goue reël. Dis gegrond op K53 se hou links en gaan regs verby. Dis so eenvoudig dat dit geniaal is! Dis die oortuiging dat ons as leerlingmans aanneem dat ons vrou dalk moontlik reg is en dat (so onwaarskynlik as wat dit is) jy as die man verkeerd is. ’n Eenvoudige manier om daarna te kyk, is dat dit twee kos om ’n botsing te hê. As jy botsings vermy, sal daar geen wees nie – ongeag wie se skuld dit is. Daar is NIE iets soos ’n regverdige botsing nie.

4. Sit tyd opsy vir jouself

Jy gaan dol wees oor hierdie wenk. Jy het tyd op jou eie NODIG. Of dit nou ’n maandelikse pokerspel of ’n aand in jou mangrot is. Solank dit ’n plek is waarheen jou vrou tevrede is om jou te stuur. (Jammer, ouens, geen besoeke aan Teazers nie.) Dames, gun jou man hierdie tyd. Dis hoe hy alles verwerk. Hy sal meer gefokus en toegewyd terugkeer. Ek weet party vroue haat die idee dat dit hul man in staat stel om nou ’n mangrot te hê, maar, in konteks gestel, is die res van die huis jou vrougrot.

5. Belê in jou huwelik

Die lewe is lank, manne! Jy wil iemand aan jou sy hê wanneer jy oud is en hulp nodig het om toilet toe te gaan. Beskou die moeite wat jy met jou huwelik doen as ’n belegging. Of jy nou optimisties of pessimisties voel, hierdie beleid sal jou deurhelp en laat seëvier.

Bestee dus die tyd, doen die moeite en verdien daardie regmerkies. Wanneer jy die spreekwoordelike spoedhobbel tref, sal jy bly wees jy het.