Ons kan heelwat sulke lewenslesse leer by mense met gestremdhede:

1.    Jy kan werklik gelukkig wees in ’n ‘stukkende’ lyf

Baie mense sê hulle sal liewer doodgaan as om met ’n gestremdheid saam te leef, maar ’n mens se brein kan ongelooflik goed by jou “nuwe” lyf aanpas.

Jane Delahunty, wat verlam is sedert ’n operasie in Maart 2001, vertel sy moes by haar gestremdheid leer aanpas. “Ek moes weer leer onafhanklik wees: hoe om ’n aangepaste voertuig te bestuur, myself te bad, noem maar op.

“Tyd, geduld en ’n goeie ingesteldheid gee die deurslag. Die lewe raak beter. ’n Mens glimlag stadigaan weer.”

2.    Geduld kan jou deur byna enigiets dra

Ons leer van kleins af dis belangrik om geduld te kweek, maar as jy ’n gestremdheid het, word dit op ’n heel ander vlak van jou verwag.

Moenie jou oor onbenullighede bekommer nie. Leer wat maak werklik saak. Is die fliek wat jy graag wou kyk uitverkoop? Ag wat, môre is nog ’n dag! Dit kon veel erger gewees het.

3.    Vier klein suksesse

Terwyl jy jou nie behoort te bekommer oor onbenullighede wat skeefloop nie, moet jy ook die klein suksesse in jou lewe vier.

Het jy goed gedoen in ’n toets? Vier dit! Minstens voor jy oor die volgende een begin stres…

4.    Uniekheid is ’n wonderlike geleentheid

Die meeste mense wy ’n groot deel van hul lewe daaraan om in te pas by hul portuurgroep. Maar om uniek te wees kan ’n wonderlike geleentheid wees.

Lucas Sithole, die 26-jarige tennisspeler wat vandeesmaand die Sydney Internasionale Rolstoeltenniskampioenskap gewen het, sê die ongeluk waarin hy sy regterarm en albei sy bene verloor het, spoor hom aan.

“As ek nie daardie ongeluk gehad het nie, sou ek nie vandag hier gesit het nie. Ek gebruik dit om my aan te spoor.”

5.    Die lewe is kort – gryp dit aan

Moenie toelaat dat die lewe jou verbygaan sonder dat jy dit doen wat jy nog altyd wou nie, ongeag wat jy oorkom.

Pieter du Preez was 23 jaar toe hy verlam is in ’n fietsongeluk. Van toe af is hy ’n C6-kwadrupleeg, wat beteken hy kan net sy kop, skouers en arms beweeg.

Maar dié man, wat van jongs af ’n beroepsdriekamp-atleet wou word, laat hom nie onder kry nie. Pieter (34) het die eerste kwadrupleeg ter wêreld geword wat die uitmergelende Ysterman-driekampwedloop voltooi.

- Shané Barnard

Bronne: Huffinton Post, iol.co.za