Ondersoekers aan die Universiteit van Oxford sê mans moet bymekaarkom en saam iets doen om vriende te bly, terwyl vroue hul band aan die gang kan hou deur enige sinvolle kommunikasie, soos teksboodskappe of lang telefoongesprekke.

Vir die studie moes 30 leerders lyste verskaf met besonderhede oor al hul vriende en hoe na hulle aan elkeen voel.

Die groep het vier maande later hul eindeksamens geskryf en is daarna universiteit toe.

Navorsers het die respondente eers nege maande en toe 18 maande ná die aanvanklike peiling weer gekontak.

“Dit was ’n klomp hoërskoolkinders. Hulle is almal universiteit toe en kon dus nie soos voorheen saam met hul vriende kuier nie,” het die evolusionêre sielkundige prof. Robin Dunbar tydens die jaarvergadering van die Amerikaanse vereniging vir die bevordering van wetenskap in Boston verduidelik.

“Ons het gekyk wat met die oorspronklike vriendskappe gebeur het; dit het binne enkele maande werklik vinnig versleg.”

Robin het gesê die deelnemers het elke ses maande 40 persent van hul aanvanklike vriende verloor. Geslag het ook ’n beduidende rol gespeel.

Meisies se vriendskappe het in die algemeen oorleef as hulle ’n poging aangewend het om mekaar te bel of SMS, maar nie die ouens s’n nie.

“Gesels het geen uitwerking op die mans se verhoudings gehad nie. As hulle dinge saam gedoen het – soos kroeg toe gaan of rugby gaan kyk – het die vriendskappe gehou. Hulle moes moeite doen.”

Daar is ook gekyk na hoe mans en vroue se vriendskappe wesenlik verskil.

“Vroue s’n is duidelik meer intens en intiem,” het Robin gesê. “Mans het gewoonlik nie daardie soort verhouding nie. Gewoonlik doen hulle saam met vier ouens dinge. Dis baie meer informeel.

“By die mans is dit ’n geval van uit die oog, uit die hart. Hulle kry bloot vier ander ouens saam met wie hulle kan kuier.”

Bronne: guardian.co.uk, independent.co.uk, news.sky.com, telegraph.co.uk