Ons moes almal al die een of ander tyd smart verwerk het, of dit nou kleintyd ná die dood van ’n troeteldier was, of ’n ouer of bejaarde familielid of ’n maat s’n – en dit is dikwels iets waarop ons nie kan of wil voorberei nie.

Vir sommige van ons kan dit kan ’n diep hartseer wees wat ons in ons spore tot stilstand ruk en wat die lewe uit ons uitsuig; ander mense sien eenvoudig nie ’n uitweg uit die pyn en verlies nie. Almal verwerk dit verskillend, maar hier volg ’n paar wenke wat jou moontlik kan help om ongedeerd deur die ergste tyd in jou lewe te kom.

Past. Russell Willoughby, van Los Angeles, het dekades lank met smart te doen gekry en het raad vir diegene wat te kampe het met die verlies van ’n geliefde: “Smart duur nie vir altyd nie. Mits ons dit toelaat, sal dit mettertyd verflou of in ander gevoelens verander. Vir baie mense is dit aan die begin baie terapeuties om met ander mense daaroor te praat en dit te deel.”

Hy sê: “Ons is van nature groepswesens en dit is die beste verband waarbinne ons heling en troos kan vind.” Russell waarsku mense teen “groot, lewensveranderende besluite” kort nadat hulle ’n geliefde verloor het en hy lê ook klem daarop dat dit ’n “wanbegrip” is om te aanvaar dat sulke “dapper” optrede dié wat treur, sal help om hul pyn te oorkom. “Dié soort optrede is dikwels reaktief en kan ander probleme veroorsaak,” verduidelik hy. “Jy hoef ook nie te voel jy moet dadelik jou geliefde se besittings deurgaan nie; jy hoef nie van alles ontslae te raak wat jou aan hom of haar herinner nie. Andersyds moet jy ook nie altare skep wat jou aan jou smart help vasklou nie. Kry balans tussen herinneringe koester en jou verlies laat vaar.”

"’n Mens se lewe nie verby is wanneer jy sterf nie"

En wat sê die pastoor vir die mense wat sukkel om iemand na aan hulle se dood te verwerk?

“Ek sê gewoonlik vir mense dat ’n mens se lewe nie verby is wanneer jy sterf nie. Die invloed van ons lewe word op tallose maniere en in vele situasies voortgesit.

“Oral in die geskiedenis het mense uit uiteenlopende kulture ’n beloning, geregtigheid, heling of vrede vir hul geliefdes in die hiernamaals gesoek. Dit kan saamgevat word in gelowe rakende die hemel, die paradys, nirwana, reïnkarnasie of soortgelyke begrippe.”

Russell glo dat begrafnisdienste baie belangrik is vir diegene wat lig soek in die duisternis van rou, en hy beklemtoon dit dat rou- of gedenkdienste of “die een of ander soort ritueel belangrike maniere is om afsluiting te bring in die geval van verlies.

“Ek glo die pyn van verlies word op lang termyn beter versag deur die viering van die beste van dit wat ’n persoon in sy of haar leeftyd was, as deur bespiegeling oor die hiernamaals,” merk hy op. “Ons kan die waarde van ’n persoon se lewe gedenk en met ander mense deel ... ek is ’n sterk voorstander daarvan dat die familie en vriende herinneringsdienste hou óf dienste om die oorledene se lewe te vier, pleks van ’n gewone begrafnis.”

© Cover Media