Verhoudings is meer geneig om te eindig ná 10 as sewe jaar, volgens ’n studie.

Eers ná 35 jaar van ’n huwelik is die maats meer eensgesind, het navorsers gesê.

Die studie is die omvattendste nog op dié gebied en navorsers het met meer as 2 500 vroue oor hul huwelik gepraat vandat hulle die knoop deurgehaak het tot 35 jaar later.

Navorsers het hulle uitgevra oor hul geluk, hoe gereeld hulle lag saam met hul man en hoe gereeld hulle mekaar uitgevra het oor hul dag.

Die vroue is almal gebore in die laat 50’s of vroeë 60’s en het meestal in hul middel 20’s getrou.

Ongelukkig toon die studie dat geluk en kommunikasie van die begin van die huwelik begin afneem en nie weer verbeter nie. Sowat twee derdes van vroue beweer hulle het ongelukkiger in die huwelik geword hoe langer hulle getroud was.

Amper nege uit 10 sê hulle praat minder met hul eggenoot en lag minder saam met hulle, en daar is geen teken dit sal ooit weer verbeter nie.

By ’n klein persentasie paartjies het kommunikasie mettertyd verbeter, maar eers ná 30 jaar van getroude lewe. Selfs toe het vlakke van kommunikasie en geluk nie teruggekeer soos tydens die “wittebroodfase” nie, het die vaktydskrif Social Science Research berig.

Die studie van die Brigham Young-universiteit in Utah toon rusies in huwelike neem van die begin af jaarliks toe en is op die ergste ná 15 jaar.

Paartjies met ’n laer inkomste en wat saamgewoon het voor die huwelik, het as ’n reël meer baklei.

Maar in die studie is bevind paartjies sit minder vas ná 10 jaar. Ná 35 jaar begin hulle meer met mekaar saamstem.

Dr. Pam Spurr, verhoudingskenner en troostannie, het gesê: “Dis baie normaal dat verhoudings veranderings ondergaan. Solank paartjies hulleself tot die verhouding verbind, kan hulle maklik die probleme oorkom en sterker aan die ander kant uitkom.”

Bron: IOL