Soos om te sê jy’s te babelas om jou kamer skoon te maak of jy’s “te moeg” om ná werk gim toe te gaan?

Daar moet ’n rede wees hoekom jy so uitstel. Dalk is daar ’n onderliggende vrees dat jy nie suksesvol sal wees nie. Lees verder as hierdie gevoelens bekend klink, en vind uit wat jou gedrag beteken.

Jy’s oorgekwalifiseer

Jy kry ’n wonderlike geleentheid, maar jou eerste reaksie is dat dit nie goed genoeg is nie. Dit is nie net ’n wysneusige uitkyk nie, maar beteken ook jy keur dalk die kans van ’n leeftyd af omdat jy dink jy is te goed daarvoor. As jy die soort is wat studeer en die kwalifikasies inryg, maar dit nooit werklik gebruik nie, kan jy dalk die slagoffer van selftwyfel wees. Jy is in staat om kursusse te voltooi en nuwe vaardighede aan te leer; hoekom benut jy dit nie? Vra ’n pel om saam te gaan as jy vir ’n onderhoud gaan, want hulle sal jou in die regte rigting stuur. Belangriker nog, moenie jou tyd en geld mors op die inwinning van kennis wat jy nie gaan gebruik nie.

Tyd mors op sosiale media

As jy eers by Facebook, Twitter of Instagram aangemeld het, is dit moeilik om nie diep in ander se lewe te krap nie. Waarmee is hulle besig? Met wie gaan hy uit? Dit is waarskynlik een van die grootste afleidings in die werkplek en mense wend hulle dikwels tot die internet om ’n moeilike taak te vermy. Dit help dalk van stres ontslae raak, maar jy gaan nie veel uitgerig kry nie. Daar is maniere om sekere webtuistes of internettoegang te blokkeer as jy nie jouself vertrou om gefokus te bly nie.

Wag vir iemand anders

Moenie dinge wat jy graag wil hê, uitstel nie – of dit ’n droom is wat jy wil navolg of om die eerste skuif op ’n afspraak te maak. As jy en ’n vriend byvoorbeeld aan ’n wonderlike sake-idee dink, maar hulle verdwyn ’n paar weke lank, hoekom volg jy dit nie op jou eie op nie? Jy kan dit alleen doen, selfs al dink jy nie so nie! Solank jy hulle daarvan bewus maak dat hulle welkom is om by jou aan te sluit, hoef jy nie sleg te voel omdat jy dit alleen aanpak nie. Wie weet; jy voel dalk vryer as jy dit op jou eie aanpak. En wat afsprake betref, is dit eintlik maklik om uit te pluis of iemand dieselfde oor jou voel. Toe, waarvoor wag jy?

Die strewe na volmaaktheid

“Moenie met tweede beste tevrede wees nie.” Party mense is geneig om dié gesegde te ver te voer. Party goed lyk dalk volmaak, maar ná ’n ruk kan jy die krake sien. Moenie talm in die hoop dat dinge in jou skoot gaan val nie; jy gaan dalk moet hard werk om iets te verbeter. Maar dieselfde geld nie vir mense nie – wat verhoudings betref, sal jy nooit die volmaakte mens vind nie. Konsentreer liewer daarop om die perfekte pasmaat te vind. Dit sal nooit werk as jy die verhouding betree met ’n lysie eienskappe waarna jy soek nie – fokus eerder op die persoon se positiewe eienskappe en wat jy daaruit kan leer.

© Cover Media