Baie vroue kan die kans nie weerstaan nie om op ’n Saterdagaand ’n goeie tranetrekker saam met hulle vriendinne te kyk. Hulle stuur die sneesdoekies vir mekaar aan terwyl hulle huil oor flieks soos The Notebook en The Fault in Our Stars. Maar hoekom is dit vir vroue so aanloklik om te sit en snik oor ’n rolprent?

Volgens nuwe navorsing deur die Universiteit van Cardiff is vroue geneig om die gelukkige oomblikke van ’n fliek meer te geniet en voel hulle minder hartseer oor die tragiese tonele as hulle hul emosies met mekaar kan deel.

Dertig pare vriendinne, tussen die ouderdomme van 20 en 33, het aan die studie deelgeneem. Hulle is gevra om ’n punt te gee aan ’n verskeidenheid sterk emosionele beelde. Die skaal waarop hulle die beelde moes gradeer, het gewissel van “baie negatief” tot “baie positief”, en die resultate wys dat wanneer die vroue saam is, hulle meer geneig is om die prentjies in ’n goeie lig te sien. Die bevindings van die studie is in die vaktydskrif Social Cognitive and Affective Neuroscience gepubliseer.

'Ons bevindings dui daarop dat ’n negatiewe emosionele ervaring, soos om ’n ‘huilerige’ film te kyk, positiewer is wanneer dit met ’n vriendin gedeel word...'

“Ons bevindings dui daarop dat ’n negatiewe emosionele ervaring, soos om ’n ‘huilerige’ film te kyk, positiewer is wanneer dit met ’n vriendin gedeel word,” het Job van der Schalk, ’n sielkundige van die Universiteit van Cardiff gesê. “En terselfdertyd sal ’n positiewe emosionele ervaring, soos om ’n romantiese komedie te kyk, ook aangenamer wees wanneer dit gedeel word.”

In die studie is bevind dat hierdie opvatting bewys word deur mense wat saam bioskoop toe gaan omdat hulle “’n positiewe subjektiewe uitwerking verwag deur hierdie emosionele ervaring te deel”. Dit kan verklaar hoekom flieks soos Marley & Me so hoog staan by die wêreldwye loket nadat dié fliek van 2008 sowat R2,8 miljoen verdien het.

Daar is ander teorieë oor hoekom vroue oor die algemeen meer as mans huil, en prof. Ad Vingerhoets, kliniese sielkundige aan die Universiteit van Tilburg in Nederland, het gekyk na hierdie verskille in tranestorting.

Hy het die boek Why Only Humans Weep: Unravelling the Mysteries of Tears gepubliseer, en het die verskil tussen mans en vroue se “emosiebelaaide situasies” aangetoon.

“Dit lyk of vroue hoër empatieke vaardighede het, hul bande is anders met ander vroue as dié met mans, hulle is meer geneig om in gesondheidsorg of met kinders te werk, hulle kyk meer hartseer rolprente en lees meer oor gebroke huwelike en ongelukkige kinders,” het hy verduidelik.

Niemand hoef hulle daaroor te skaam wanneer hulle huil nie. Dit kan ’n mens talle probleme help oorkom. Huil kan spanning verlig, dit kan jou help om hartseer te hanteer en daar word selfs beweer dat dit gifstowwe uit ons liggaam kan skei.

Tog is dit nie goed om aanhoudend te huil nie omdat dit ’n teken kan wees van toestande soos depressie of posttraumatiese stressteuring. As jy meer as gewoonlik huil, is dit raadsaam om jou dokter te spreek.

© Cover Media