Danksy die afspraak-app Tinder sal jy nou sonder ’n woord kan uitvind of iemand op die rak sit.

Tinder wil voortaan ’n meer, wel, tegniese benadering volg om meer “betekenisvolle” interaksies te skep.

Met beoogde toegevoegde-werklikheidskenmerke sal gebruikers deur net hul selfoon op iemand te rig kan uitvind of die mens enkellopend is, berig The Mirror.

“Dis ’n bietjie vreesaanjaend,” het Sean Rad, medestigter en uitvoerende hoof van Tinder, volgens die BBC by ’n onlangse Startup Grind Global-konferensie in Kalifornië gesê. Hy het gesê ontwikkelings in toegevoegde werklikheid en kunsmatige intelligensie sal “beslis ’n uitwerking op afsprake” hê.

“Jy kan jou voorstel hoe daardie ervaring met toegevoegde werklikheid intyds in die vertrek kan gebeur. Dit sal ’n beduidende uitwerking hê, want die toestelle raak nader aan jou sintuie, aan jou oë, aan jou ervarings.”

Volgens Live Science gebruik toegevoegde werklikheid die gebruiker se omgewing om “nuwe inligting te bied bo dit wat visueel en ouditief vanselfsprekend en waarneembaar is – sonder om jou werklikheid te verander”.

Toegevoegde werklikheid is onlangs suksesvol benut in Pokémon Go, wat nuwe lewe in die Nintendo-speletjie Pokémon geblaas het.

Toe Tinder in 2013 op slimfone verskyn, was dit ’n basiese afspraak-app en ideaal vir mense wat in, wel, kortstondige ontmoetings belangstel.

Sedertdien het baie gebruikers blywende liefde gevind en selfs getrou met iemand wat hulle deur die app ontmoet het.

En hierdie potensiaal, al is dit vreesaanjaend, kan daardie proses selfs makliker maak.

Soos die BBC se tegniese verslaggewer Dave Lee skryf: “Al kan dit moeilik wees om te erken, is uitgaan eintlik ’n syferspeletjie. Tans is die data wat Tinder gebruik primitief: ouderdom, ligging en gemeenskaplike vriende – asook ’n paar gedeelde belangstellings soos bepaal volgens dit waarvan jy op Facebook hou.

“Hoekom nie ’n paar maatstawwe bysit en dit selfs waarskynliker maak dat julle aanklank by mekaar sal vind nie? Dit sal baie nuttig wees as jy op ’n manier iemand se verhoudingstatus kan uitvind sonder om te vra.”

Aanlyn afsprake gaan binnekort baie interessanter word . . .

Bronne: BBCMirror OnlineMarie ClaireLive Science