Die meeste van ons het al dié toneeltjie sien afspeel: ’n Vrou slaan die motordeur toe en storm kwaad weg terwyl haar man agterbly. Of ’n paartjie sit oorkant mekaar in ’n restaurant, elkeen besig op hul selfoon.

Verhoudings is moeilik, en dikwels vergeet ons ’n gesonde verhouding kom nie net vanself nie – dit kos harde werk. Gelukkig hoef ons nie self oor elke struikelblok te val nie en kan ons uit ander se foute leer.

Hier is sewe dinge wat gesonde paartjies nie doen nie.

  1. Sê negatiewe goed oor mekaar op sosiale media

    Twaalfjariges sê negatiewe goed oor hul meisie of kêrel op Facebook. Dit is ’n onvolwasse manier om konflik te hanteer – praat eerder met jou maat oor dit wat jou pla. Moenie mense aan “jou kant” probeer kry nie, want in ’n verhouding behoort daar net een kant te wees.

  2. Kies hul loopbaan bo hul verhouding

    Natuurlik is jou loopbaan belangrik. Maar as jy van alle kante druk ervaar, is jou verhouding dikwels die eerste ding wat jy afskeep. Jy kan altyd ’n ander werk soek, maar jy het net een kans om jou verhouding te laat werk. Terselfdertyd is dit belangrik om jou maat se loopbaanvooruitsigte te ondersteun – min dinge kan ’n maat so gegrief laat voel as ’n geliefde wat hulle van loopbaangeleenthede weerhou.

  3. Bring al hul alleen-tyd met tegnologie deur

    Daar is ’n tyd en plek vir alles, en gesonde paartjies weet wanneer om die televisie, selfone of skootrekenaars af te skakel. Gesonde paartjies loer nie op Twitter terwyl hulle op ’n afspraak in ’n restaurant is nie.

  4. Vermy moeilike onderwerpe

    Verhoudings gaan oor intimiteit. As julle nie oor moeilike onderwerpe kan praat nie, skort daar iets. Julle behoort oor enigiets met mekaar te kan gesels. Benader sulke gesprekke met ’n oorvloed genade en vriendelikheid.

  5. Straf mekaar

    Jy en jou maat kan eenvoudig nie saamstem oor iets nie, nou keer julle mekaar die rug toe. Gesonde paartjies weet wanneer dit nodig is om ’n ruskans te neem wanneer hulle nie oor iets kan saamstem nie, maar hulle weet ook hoe om ’n oplossing te vind.

  6. Grawe ou koeie uit die sloot

    Ons almal het ’n verlede wat ons maak wie ons vandag is. Gesonde paartjies verstaan hul maat se verlede, maar gebruik dit nie tydens rusies as skietgoed nie. Vergifnis is ’n belangrike element in enige verhouding. In die beste verhoudings weet albei maats hoe om te vergewe en om vergifnis te vra.

  7. Gooi handdoek in

    Gesonde paartjies gooi nie die handdoek in wanneer dit moeilik raak nie. As jou maat belangrik genoeg is, kan julle daardeur werk. Gesonde paartjies hou ook aan om mekaar te wys hoe lief hulle mekaar het. Moed opgee is nie ’n uitweg vir gesonde paartjies nie.

Bronne: relevantmagazine.com, huffingtonpost.com

240414HGM001Lees in die Huisgenoot van 24 April die artikel “Skep ’n rotsvaste huwelik” op bl. 20 om jou huwelik koeëlvas te maak.