Hy is verlede jaar deur die tydskrif Forbes as die rykste man in die land aangewys.

Maar terwyl die res van die land hom ken as Christo Wiese, die skatryk sakebaas agter Pepkor en Shoprite, is hy vir sy oudste dogter, Clare Wiese-Wentzel, net "pa" en die man wat haar eindeloos inspireer.

“Soveel as wat die wêreld my pa as een van die groot base van Suid-Afrikaanse besigheid sien, voel ek sy grootste rykdom lê in die som van sy ervaringe, die onskatbare lewenslesse wat hy geleer het daaruit en sy diepsinnige uitkyk op die lewe,” skryf Clare, die eienaar van die juweliersware-reeks Paka Paka op haar blog, The Global Critic.

In die spesifieke blog-inskrywing  vertel sy hoe haar biljoenêr-pa haar inspireer het. Hier deel Christo, wat in Upington grootgeword en deesdae in die Kaapse spogbuurt Clifton bly, met sy dogter Clare die grootste lewenslesse wat hy oor die jare geleer het.

Dit gee die lewe betekenis…Die liefde van familie en vriende en jou liefde vir dit wat joune is, soos jou land en jou mense.

Wat hou my plat op die aarde? My gesin (ek het drie baie hardkoppige kinders) en my baie astrante hond, Kimbey, wat my soos haar persoonlike bediende behandel – ek moet haar oral dra waar sy gaan en 90 persent van die tyd ignoreer sy my as ek haar roep.

Die mees indrukwekkendste mense is diegene wat nie oorweldig is deur hul waargenome sukses nie en dus nie ’n legende in hul eie kop raak nie.

Ek vat stres vas deur gereeld pret te hê met vriende oor middagete by Magica Roma, my gunsteling-restaurant in Kaapstad. Ons speel speletjies om te bepaal wie die voorreg het om die rekening te betaal. Ek het altyd onder die naam “Champ” gespeel. Nou is dit “Prince”. Kom ons sê net ons het almal ons skuilname.

Dis frustrerend wanneer dinge skeefloop wat so maklik reggestel kan word en diegene in magsposisies nie die moed of politieke wilskrag het om dit te doen nie.

Om groot te word in Upington is iets wat ek baie dankbaar voor is oor die lewenslesse wat ek geleer het in dié pragtige, maar fel deel van die wêreld, een van hulle is dat die lewe nie altyd maklik is nie en soms moet jy net aangaan.

Hoe jy mense behandel sê baie oor wie jy is en sal in die meeste gevalle bepaal hoe hulle jou behandel.

Dis okei om foute te maak, te misluk en weer te probeer.

My ma het my geleer ’n mens moenie jouself bemoei met goed wat jy niks aan kan doen nie. Fokus eerder op die goed waaraan jy iets kan doen en doen dan iets daaromtrent.

My pa het my geleer om mense van alle statusse, gelowe en rasse gelyk te behandel. Hy het met almal oor die weg gekom.

Die drie grootste lesse wat ek aan my kinders wil oordra is: wees jou eie mens, moet nooit toelaat dat ander jou horisonne bepaal nie en aanvaar dat “life is a box of chocolates, you never know what you’re gonna get” (soos die rolprentkarakter, Forrest Gump, so mooi dit gestel het).

Geluk word bereik wanneer jy al jou seëninge tel.

Die geheim tot ’n suksesvolle huwelik is, onder andere, om voor julle afhaak te leer wat jou wederhelf se voorkeure is as dit kom by die lugverkoeling.

Die hardste les wat ek geleer het is daar is omstandighede in die lewe wat eenvoudig nie in jou mag is nie.

Jy meet ’n suksesvolle lewe aan as jy die wêreld ’n beter plek los as wat jy dit in gevind het.

Ek probeer om nie in die lokval te trap van fokus op die negatiewe nie.

Ouderdom laat jou besef geduld is ’n wonderlike eienskap om oor te beskik.

Ek dank my sterre dat ek grootgeword het in ’n liefdevolle en koesterende huis en dat ek weer op my beurt die pa van ’n gelukkige gesin is.

My kinders het my geleer dat daar iets is soos grenslose liefde.

Honde is ongetwyfeld ’n mens se beste vriend (dis ’n cliché vir ’n rede).

My vrou het my geleer dat ek die groot kwessies oor kan besluit (soos wat die goudprys moet wees en of Amerika oorlog moet maak in Irak). Al die ander besluite moet sy maak.

Almal van ons moet probeer om meer te gee as wat ons vat. En ons kan almal dit doen.

Dit help my in onstuimige tye... my geloof in ’n hoër gesag wie se leidende hand ons weg deur die lewe bepaal.

Ek kyk op na so baie mense dat dit onmoontlik is om almal op te noem. Die eienskappe wat ek die meeste bewonder in ander sluit in deernis, humor en ’n sin van rigting.

Dit maak nie saak of jou drome nie almal verwesenlik word nie. Wat saak maak is dat jy drome het.

BRON: THEGLOBALCRITIC.COM