Hugo Theron, ’n kliniese sielkundige van Bellville, meen gesinstrukture oor die algemeen lyk deesdae baie anders as 20 jaar gelede. “Saamblyverhoudings het die afgelope 30 jaar geweldig baie toegeneem,” voeg dr. ST Potgieter, ’n sielkundige van Bellville in Kaapstad, by. “Ek dink dit het baie te doen met ’n morele skuif wat in die samelewing plaasgevind het. Finansies is ’n groot oorweging, maar deesdae is dit net baie meer aanvaarbaar. Mense se siening oor goed wat eties korrek en verkeerd is, het baie verander.”

Volgens hom dra die groot klem op menseregte ook daartoe by dat mense makliker besluit om saam in te trek. “In die verlede kon ’n kind ’n baie dominerende pa gehad het wat hom of haar van die idee sou afgeskrik het, maar deesdae sal mense baie makliker doen wat hulle wil omdat hulle glo hulle het ’n reg daartoe.”

ST glo nie ’n saamblyverhouding bepaal later die sukses van ’n huwelik nie. “Jy kry mense wat saamgebly het, later trou en baie gelukkig is, maar jy kry ook mense wat jare lank saambly, trou en dan ná ’n jaar of twee skei. Dit verskil.”

Hy meen dit is gewoonlik die vrou wat in ’n saamblyverhouding aan die kortste ent trek; sy kan voel daar is nie ware verbintenis en toewyding van die man nie. “Dit is gewoonlik die vroue wat met die vrae sit. Hulle wonder hoekom en waarom die man nie met hulle trou nie,” sê hy.

Marelize Potgieter