Die opname onder 346 vroue, getitel “Ek Weet Nie Hoe Sy Dit Regkry Nie”, het gewys hoe Suid-Afrikaanse ma’s hul tyd deurbring, en wat hulle eerder graag sou wou doen.

“Daar is gevra hoeveel tyd hulle by die werk deurbring, en die grootste gedeelte (28%) het gesê dat hul werkdag taamlik gereeld ses tot agt uur lank is. 21% werk redelik gereeld 'n normale werkweek met soms 'n bietjie oortyd, terwyl 'n onrusbarende 5% langer as 50 uur per week werk,” sê Robyn Farrell, uitvoerende hoof van 1st for Women-Versekering, wat die opname van stapel gestuur het.

Op die vraag oor hoeveel tyd hulle saam met hul metgeselle en kinders deurbring, was die syfers verstommend.

“Die meeste (30%) het gesê hulle wy 10 tot 20 uur aan hul kinders en 24% het gesê hul kinders neem minder as tien uur van hul week in beslag. Gelukkig het slegs 1% gesê dat hul glad nie tyd het om saam met hul kinders deur te bring nie,“ sê Farrell.

Daarteenoor het 13% gesê dat hul geen tyd het vir hul metgeselle nie, terwyl meer as die helfte gesê het dat hulle elke week korter as 10 uur saam met hul metgeselle deurbring het.

Daarná is daar gevra hoe vroue hul tyd verdeel tussen vriende en familie, gesondheid en fiksheid, kook, huisskoonmaak- en -onderhoudswerk, werk toe en terug pendel en ontspanningsaktiwiteite. Die dinge waarvoor die vroue die minste tyd gehad het, was gesondheid en fiksheid (52%), ontspanningsaktiwiteite (38%) en vriende en familie (16%). Hulle het egter tyd ingeruim vir huiswerk – 43% vroue wy elke week tussen drie en ses uur hieraan.

Dit is baie duidelik dat daar nie veel ruimte is vir “ek-tyd” in die gemiddelde vrou se skedule nie.

“As jy vlugtig na hierdie statistieke kyk, sal jy sien dat vroue minder tyd het vir ontspanning en fiksheid en meer tyd gebruik vir kantoor- en huiswerk as vir enigiets anders. Dit is baie duidelik dat daar nie veel ruimte is vir “ek-tyd” in die gemiddelde vrou se skedule nie. As daar egter tyd beskikbaar was, sou die meeste vroue (26%) graag by 'n spa bederf wou word, maar kort op hulle hakke volg die getal vroue (23%) wat gewoonlik hoegenaamd geen “ek-tyd” gebruik nie,“ sê Farrell.

Volgens Farrell is dit dus nie 'n wonder nie dat meeste vroue graag hulself wil pamperlang en meer tyd saam hul gesin, man en kinders wil deurbring. Maar wat wil hulle die graagste hê? “Om kans te kry om net te rus; om meer tyd te hê en om gewaardeer te word”.