As jy iemand baie lief het, verdra jy dalk hul swak modesin of dat hulle nooit die tandepasta se doppie terugsit nie. Maar sekere goed is moeiliker en selfs onmoontlik om oor te sien.

Maar stem jou afkeure ooreen met dié van ander mense? Die e-sigarethandelsmerk Vapor Couture het nagevors watter eienskappe die mins wenslike verloofde het. Altesaam 1 000 mense se mening is gevra en gelukkig blyk dit mans en vroue se vyf grootste afkeure stem ooreen.

Die mins wenslike kenmerk is ontrouheid . As ’n maat nie nou aan jou kan getrou bly nie, voorspel dit immers niks goeds vir jul huwelik nie. Meer as vier vyfdes van die vroue het trouens gesê dit is die slegste eienskappe.

Tweede op die lys is swak higiëne. Dit is te verstane dat liggaamsreuk ’n probleem kan wees wanneer jy intiem raak. Amper driekwart van die vroue het dit as amper net so erg as ontrouheid beskou.

Volgende op die lys is werkloosheid met meer as twee derdes van die stemme en dan rook met net meer as die helfte van stemme. Finansiële onverantwoordelikheid is in die vyfde plek.

Die deelnemers is ook gevra om ’n lys te maak van die eienskappe wat tot egskeiding sal lei. Die antwoorde is soortgelyk, maar pleks van swak higiëne is geldprobleme tweede.

’n Interessante feit het aan die lig gekom: Vroue blyk minder geduld te hê as mans met dit wat hulle pla. Vroue se kans om die topvyf te beskou as dit wat ’n verhouding sal laat skipbreuk ly, is trouens ’n tiende groter as mans s’n.

Dit is immers goed om te weet waarmee jy nie sal kan saamleef nie voor jy instem om vir altyd by iemand te bly.

© Cover Media