Main

“ONS moet die reëls van die liefdeswebwerf volg,” sê Henri. Henri is my volgende afspraak en hy is ’n bibliotekaris. Blykbaar volg Henri reëls.

Ek verpes die goed.

“Watse reëls?” vra ek half vies.

“Wel ons moet op ’n openbare plek ontmoet. Die webwerf beveel dit aan. Daar is ’n hele lys van moets en moenies op die webwerf. Het jy dit nie gesien nie?”

Ek dink. Nee, ek het nie. Ek volg my eie reëls. En hulle is:

  1. Moet nooit praat met ’n man wat sê hy is ’n wewenaar nie. Jammer, regte wewenaars, maar internetbedrieërs hou daarvan om al die hartsnare op een slag te pluk met ’n afgestorwe vrou en ’n arme bloedseltjie vir wie hulle moet sorg.
  2. Moet nooit ’n man vertrou wat Bybelversies aanhaal nie. Dit klink dalk vir jou verskriklik, maar sulke mans is dikwels ook internetbedrieërs. Hulle probeer juis hiermee om goeie mense met goeie harte te lok wat dan vir hulle geld sal gee.
  3. Dan bly ek ook nog weg van mans wat “oopkop”-vroue soek, want dit beteken hulle soek iets op ’n skinkbord, van dié wat vertel hoe graag hulle saam met die manne kuier –  o ja, en van mans wat foto’s van hulleself plaas met ’n bierbottel in die hand.
  4. En elke normale mens weet tog nou: Jy ontmoet nie ’n vreemdeling op ’n parkeerterrein, by ’n bushalte, donker woud, op die dak van ’n verlate gebou of op ’n spoorlyn nie. Jy ontmoet die persoon - soos ’n normale enkellopende wese – in ’n koffiewinkel of restaurant.

“Kom ons ontmoet in die planetarium,” kondig bibliotekaris aan.

Genugtig. Onmiddellik sien ek ’n donker, stil museum voor my geestesoog – en hoe ek alleen saam met ’n vreemdeling in die ouditorium sit terwyl planete oor ons flikker. Niemand sal my hoor gil nie . . .

“Hoekom wil jy daar ontmoet?” wil ek wantrouig weet.

“Want die webwerf sê dit moet op ’n openbare plek met baie mense wees.”

“Daar is nie baie mense in ’n planetarium nie,” maak ek ’n einde aan die voorstel.

“Is daar ’n China Town naby jou?”

“Wat?” vra ek. “Moenie vir my sê jy wil op so ’n besige plek ontmoet nie. Dis uiters vreemd!”

“Maar dis ’n besige plek,” antwoord hy. “En die webwerf sê dat . . .”

“Ja, ja ek weet . . .” val ek hom in die rede.

“Wat daarvan dat ons ’n vraelysie saambring?” kom die gretige vraag.

Ek begin wonder of hierdie afspraak regtig die moeite werd gaan wees. Dit voel of ek op punt staan om met die Hoofseun uit te gaan.

“Beveel die webwerf dit ook aan?” vra ek.

“Nee, maar dit kan dalk pret wees. Ons kan oor ’n tema praat.”

Genade tog.

“Watter soort tema?” vra ek.

“O, ons kan oor gedigte praat!”

Op die ou einde ontmoet ons in ’n kerrieplek in die middel van die stad in die middel van die dag. Dis spitsverkeer. Al die parkeerplekke is vol. Ek ry om en om en om en kan voel hoe die irritasie oor my borskas uitslaan. Dis net rooi kolle waar jy kyk.

Hy sit in die middel van die reusagtige eetlokaal wat so vol mense is dat , ’n mens kan skaars tussen al die stoele deurskuur. Dis ’n wegneemplek. Jy bestel, kry ’n kaartjie en staan dan in ’n ry vir jou kos.

Kerrierestaurant

As ek klaar is in my ry, gaan sit ek op die plastiekstoeltjie en gryp my plastiekvurk en -mes en probeer die kerrievleis sny. Ek kan voel hoe buig die mes. En so verloop ons gesprek oo . . . soos ’n buigende plastiekmes: eers hiernatoe, dan daarnatoe, maar nooit buig dit in ’n rigting nie. Ons kom nie bymekaar uit nie.

Later skuur ek by die talle mense en hul talle kinders verby buitentoe, waar die Kaapstadse verkeer  besig en skellend voor my ontvou.

Sugtend klim ek in my motor. Ek hou nou maar net eenmaal nie van ’n man wat veilig speel nie. Daarvoor is ek te impulsief en te wild.

Ek hoop maar hy het darem veilig gevoel . . . - Erla-Marie Diedericks Credit Erla-Mari Diedericks blog vir Huisgenoot oor verhoudings, liefde  en die ervarings van ’n volwasse enkellopende die era van internet-afsrake.  Sy is die skrywer van die suksesvolle Sin, Sushi & Survival en haar nuutste roman, Still Standing, is tans in winkels landwyd beskikbaar sowel as by kalahari.com. As jy ook ’n storie in jou onderste laai het, skryf gerus in vir Erla se aanlyn-skryfkursus by http://www.learninggroup.co.za/online-creative-writing-course.php

* Stel jy belang in aanlyn-ontmoetings? Gaan na Huisgenoot se ontmoetingsportaal by http://www.pasmaats.co.za/s/